Vermoorde boer – sewe verdagtes gaan in hof verskyn

Deel hierdie storie / Share this story

Michael André Pattinson (67) van Summersli in die Harrismith-omgewing in die Vrystaat, wat deur sy broer as vermis aangemeld is, se liggaam is Maandag 24 Julie 2023 gevind.

AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder, sê lede het op ‘n klagte van ‘n vermiste persoon gereageer waarna werkers hulle meegedeel het dat hulle die vermiste boer Saterdag 22 Julie 2023 omstreeks 17:00 laas gesien het toe hulle van diens af gegaan het.

Met lede se aankoms by die plaashuis kon hulle tekens sien dat daar mense in die woning was en dat skootrekenaars en ‘n voertuig, ‘n Toyota Urgban Cruiser, vermis is.

Tracker Netstar het die voertuig in Tseseng-woonbuurt in Qwaqwa langs ‘n taverne opgespoor.

Verskeie polisie-eenhede is geaktiveer en die voertuig is gevind. Sewe persone het gevlug toe hulle die polisie gewaar. ‘n Skietery het ontstaan waarna die polisie daarin geslaag het om al sewe die verdagtes, wat twee vroue insluit, in hegtenis te neem.

Twee persone wat gewond is, is onder bewaking in ‘n plaaslike hospitaal. Een van die verdagtes is in besit van ‘n speelgoedwapen gevind.

Die huis waar die voertuig gevind is, is deursoek en daar is op die liggaam van die boer, met oop wonde, afgekom. Hy is deur paramedici dood verklaar.

Twee skootrekenaars en ‘n kamera wat vermoedelik aan die oorledene behoort, is ook teruggevind.

Sake van huisroof, moord en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom is geregistreer.

Die verdagtes sal Donderdag vir moord in die Tseseng-landdroshof verskyn. Hulle sal ook na verwagting in die Harrismith landdros-hof voorkom. Hulle gaan onderskeidelik in beide howe vir die klagtes van moord, huisroof, diefstal van ‘n motorvoertuig en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom verskyn.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel