Die historiese rasskikking wat Solidariteit met die regering onderteken het, is nie die eindpunt van sy stryd teen raswette nie, sê Solidariteit in hul persverklaring.
Volgens die verklaring behels die ooreenkoms dat die gebruik (misbruik) van ras as enigste maatstaf vir aanstellings afgeskaf word en dat niemand op grond van ras afgedank mag word nie. Dit bepaal verder dat rasprogramme tydelik en buigsaam moet wees en dat daar geen absolute plafonne vir indiensneming of bevordering vir enige groep mag wees nie.
Dit beteken die poel van toepaslik gekwalifiseerde en bevoegde persone, besighede se ekonomiese omstandighede, posvereistes, kwalifikasies, vaardighede en ondervinding moet ook in ag geneem word by aanstellings. Werkgewers sal ook nie meer die swaar boetes opgelê mag word as hulle hierdie geregverdigde gronde kan aanvoer om nie aan die raswette te voldoen nie.
“Hierdie ooreenkoms is ʼn reusedeurbraak en dit is danksy duisende mense wat net eenvoudig gesê het ons is moeg vir die regering se rasmalheid en hulle het ons bankvas ondersteun in hierdie internasionale proses,” het dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, gesê.
“Hierdie oorwinning is ’n strategiese stryd wat gewen is, maar die oorlog teen die regering se rasse-ideologie duur voort.”
Die skikking spruit uit ʼn regsaksie wat Solidariteit teen die Wet op Billike Indiensneming ingestel het, en ʼn klag wat Solidariteit by die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) ingedien het. Die skikking word ʼn hofbevel gemaak en ook as regulasies in die Staatskoerant afgekondig.
“Die skikking skaf nie die raswet af nie,” wys Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, uit. “Geen hof in Suid-Afrika of die IAO sal dit tans doen nie. Daarom gaan Solidariteit voort met ʼn proses wat ons by die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminasie (CERD) begin het en wat na verwagting in Desember by die VN hanteer sal word.
“Hierdie skikking is dus nie die eindpunt van ons stryd teen die raswette nie, maar die eerste mylpaal na ʼn normale werksmag waar mense op grond van hulle karakter en bekwaamheid, in plaas van hulle ras, hanteer word.”
Dringende en besliste aksie is nou meer as ooit nodig
Solidariteit se Nasionale Raad het in Junie vir die eerste keer in sy 121 jaar bestaan ʼn noodkongres uitgeroep en ʼn mosie aanvaar wat dringende aksie teen die voorgestelde regulasies van die Wet op Gelyke Indiensneming stipuleer.
Daar is tydens die kongres ʼn mosie aanvaar waarvolgens Solidariteit tot in die hoogste hof sal litigeer oor die kwessie, ʼn opvolgverslag by CERD indien, ʼn veldtog van stapel sal stuur om buitelandse regerings bewus te maak van die regering se rasvergrype, leiding sal neem om ander burgerlike organisasies en politieke partye te mobiliseer en lede en die gemeenskap sal aanmoedig om die regering by die stembus te straf.
Solidariteit gaan ook voor met sy aktiewe bou-strategie om sy lede en die gemeenskap te bemagtig. Die bou-mandaat behels dat ʼn alternatiewe bedeling geskep word wat die rasbedeling troef, waarmee Solidariteit se lede en die gemeenskap goed kan werk en hulle volle potensiaal kan bereik; die bou van opleidingsinstellings; mobilisering van die gemeenskap om mekaar in diens te neem; en om met ander instellings van Solidariteit saam te werk om Solidariteit-lede en die Afrikaanse taal- en Afrikanerkultuurgemeenskap te help om op alle terreine vry, veilig en voorspoedig te wees.
“Ons glo in groter outonomie. Die antwoord lê in ons eie hande. Saam raak ons bestand teen die staat. Vir elke geveg wat ons teen onreg veg, lê ons twee bakstene in die bou van ons eie toekoms,” sluit Hermann af.



