Inflasie het in Junie tot 5,4% gedaal, teenoor die 6,3% wat dit in Mei was.
Dit is die eerste keer sedert April verlede jaar wat inflasie onder 6% is. Statistiek Suid-Afrika het vanoggend die jongste data bekend gemaak. Junie se inflasie is ook die laagste persentasie sedert Oktober 2021 toe dit 5% was.
Inflasie was die hoogste in Julie 2022 toe dit by 7,8% gedraai het.
Kerninflasie, wat die prys van brandstof, voedsel en krag insluit, het ook van 5,2% in Mei tot 5% in Junie gedaal.
Kosprysinflasie staan nou op 11%.Hier is ‘n vergelyking van spesifieke voedselsoorte se prys van Junie 2023 teenoor Junie 2022:
Graanprodukte soos brood, mieliemeel en pasta kos 15,5% meer as ‘n jaar gelede.
Vleis is 6,1% duurder.
Melk, kaas en eiers kos 14,1% duurder.
Olies en vette is 9,5% goedkoper as ‘n jaar gelede.
Groente is 20,9% duurder.
Suiker, lekkers en ander soetgoed jaag die verbruiker 16,4% meer uit die sak. Dit is die hooste suikerprysinflasie sedert Junie 2017.



