’n Datagedrewe publikasie het twaalf kruideniersware-items se pryse oor ’n jaar gemonitor om te bepaal watter kleinhandelaar die goedkoopste en watter die duurste is.
Daar is die kopers wat inkopies doen waar hulle spesiale aanbiedinge en afslag kan kry en dan is daar diegene wat lojaal is aan hul voorkeurkleinhandelaar.
Vir die meerderheid kopers geniet inkopies gebaseer op spesiale aanbiedinge voorkeur. Met die stygende koste van produkte is ‘n goeie spesiale aanbod moeilik om te weerstaan, en wanneer jy dit kry, wil jy die volle voordeel daarvan benut.
Dit blyk dat Suid-Afrika se datagedrewe publikasie, The Outlier, die goedkoopste en duurste kleinhandelaars op grond van twaalf kruideniersware-items gevind het.
“’n Mandjie van 12 noodsaaklike kruideniersware-items is die goedkoopste by Makro – vir die derde agtereenvolgende jaar – vergeleke met sewe ander plaaslike kleinhandelaars vanaf 29 Junie 2023.”
The Outlier het pryse oor ‘n tydperk van 12 maande vir basiese goedere van geselekteerde groot kleinhandelaars in Suid-Afrika vergelyk.
Die kleinhandelaars het aanvanklik Woolworths, Checkers, Pick n Pay en Spar ingesluit, en later is Food Lover’s Market, Shoprite, Boxer en Makro by die spektrum gevoeg.
Die mandjie het ingesluit:
700 g Albany Superior gesnyde witbrood, of winkel se handelsmerk
2 liter sonneblomolie (goedkoopste opsie)
2.5 kg Iwisa-mieliemeel
2,5 kg Selati-witsuiker
2 liter melk (goedkoopste opsie)
2 kg Tastic-rys
2.5 kg Snowflake-koekmeel
175 g-stafie Dettol-kruieseep
500 g Fatti’s & Moni’s spaghetti, of winkel se handelsmerk
400 g gladde Black Cat-grondboontjiebotter
1 kg Jungle-hawermout
100 Joko-teesakkies
In Junie vanjaar is gevind dat Pick n Pay met die nuwe mandjie van 12 items die duurste teen R505,88 per mandjie gekos het, terwyl Makro vir drie agtereenvolgende maande die goedkoopste gebly het, met R450,99 vir sy mandjie.
Die tweede goedkoopste mandjie was van Shoprite teen R463,88, gevolg deur Food Lover’s Market teen R474,30.



