‘Sol Plaatje wil kortpad neem vir Southridge-ontwikkeling’

Deel hierdie storie / Share this story

Lees ook: Jan Oberholzer verlaat Eskom

Sol Plaatje-munisipaliteit verontagsaam prosesse in ‘n poging om ‘n behuisingsontwikkeling in Southridge, Kimberley, op ‘n terrein wat geneig is tot rioolstortings, deur te druk. 

Die Demokratiese Alliansie (DA) is ten gunste van ontwikkeling. Ons is egter hewig daarteen gekant dat die munisipaliteit versuim om prosesse te volg, met onwettige en moontlik skadelike gevolge, om stemme vir die ANC voor verkiesings te wen.

Die rioolnetwerk in Southridge is oorlaai en verwaarloos. Rioolstortings is al vir jare ‘n probleem. Tans strek ‘n rioolmeer oor die veld van Smartstraat tot by Landbouweg.

Sol Plaatje staar reeds regseise in die gesig weens huise in White City wat oorstroom het as gevolg van die munisipaliteit se stukkende rioolnetwerk. Dit is ondenkbaar dat die munisipaliteit bereid is om dieselfde roete te volg, sonder om die stad se riooluitdagings voldoende aan te spreek.

Die betrokke perseel is nie gediens nie en die nuwe eiendomseienaars sal sonder lopende water, sanitasie of elektrisiteit moet klaarkom totdat die bankrot munisipaliteit fondse het om dit aan te spreek.

Daarbenewens het Sol Plaatje versuim om openbare deelname te fasiliteer. Dit het ook geen oorweging gegee aan vorige aansoeke vir die betrokke perseel nie.

Sol Plaatje manipuleer sy grond- en ander onroerende batesbeleid deur sy besluit om die eiendom teen minder as 40% van sy markwaarde te verkoop. Hierdie klousule is slegs bedoel vir die verkoop van eiendom aan staatsorgane en mag nie op verkope aan individue toegepas word nie. Dit sal huispryse in Southridge negatief beïnvloed.

Sol Plaatje het verder bepaal dat slegs inwoners van Phomolong aansoek mag doen om die 109 persele te koop, wat vooroordeel teen inwoners van ander omliggende gemeenskappe, soos Greenpoint en Southridge skep. Die voorgestelde begunstigdes is ook nie op die waglys vir die Finance Linked Individual Subsidy Programme (FLISP) nie. 

Die hele ontwikkeling laat meer vrae as antwoorde ontstaan en kan nie in sy huidige toestand goedgekeur word nie.

Die DA het ‘n gedetailleerde lys van die FLISP en ander aansoeke aangevra, benewens die lys van beoogde begunstigdes. Ons sal die ontwikkeling in die raad teenstaan en ‘n gemeenskapspetisie ondersteun om te verseker dat regverdigheid, behoorlike prosesse en dienslewering seëvier.

*PERSVERKLARING

Lees ook: Jan Oberholzer verlaat Eskom