Skokkende syfers oor stukkende en ongebruikte polisievoertuie versterk Solidariteit se groeiende kommer oor die haglike toestand en verval van eiendom in besit van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).
Bheki Cele, die minister van polisie, het in ʼn parlementêre antwoord bevestig dat soveel as 21% van polisievoertuie vir sigbare polisiëring en 15% van dié wat landwyd deur die speurdiens gebruik word, nie in ʼn werkende toestand is nie.
Hierdie syfers beaam bevindings in ʼn verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) van 2022 waarin die toestand en tekort aan voertuie in die speurdiens blootgelê is.
“Ná die uitreiking van die verslag in 2022 sou jy kon verwag dat die probleem as ʼn saak van dringendheid aangepak sou word,” sê Theuns du Buisson van die SNI.
“Tog is dit weereens duidelik die teendeel is waar en die probleme met betrekking tot voertuie in die SAPD het in werklikheid vererger.”
Terwyl die syfers eerstens ʼn blik gee op die toenemend uitdagende toestande waaronder polisielede in die uitvoering van hulle pligte gebuk gaan, strek die implikasies selfs verder.
Hierdie voertuigtekorte hou ook vir slagoffers van misdaad ernstige gevolge in, aangesien wetstoepassers nie by magte is om op misdaad te reageer of om slagoffers te hulp te snel nie.
Volgens die persentasies, soos deur Cele weergegee, is die toestand die heel ergste in die Oos-Kaap, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal waar meer as 26% van voertuie wat vir sigbare polisiëring gebruik kan word, onklaar is.
Hierdie verval in die SAPD is natuurlik nie net tot voertuie beperk nie. Solidariteit se Speurdiensverslag maak ook melding van verwaarlosing van kantore en tekorte aan toerusting. Dit sluit noodsaaklike forensiese toerusting asook basiese kantoorhulpmiddels soos skryfbehoeftes en selfs toiletpapier in.
“Hierdie syfers beklemtoon die minagting wat die regering en polisiebestuur vir hulle eie beamptes het, en by implikasie ook vir landsburgers as weerlose slagoffers van misdaad,” sê Du Buisson.
Solidariteit doen ʼn dringende beroep op die regering om hierdie toestand en verdere verval as ʼn saak van dringendheid te takel. – Solidariteit



