Eshethu Desta Defere (26,) ‘n Ethiopiese burger, is lewenslank vir die verkragting van ‘n minderjarige (12) in die Lichtenburg-streekshof gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit..
Henry Mamothame, woordvoerder vir die NVG in Noordwes, sê Defere was ten tyde van die misdaad onwettig in die land. Sy skuldigbevinding spruit voort uit ‘n misdaad wat gedurende Junie 2021 in ‘n informele nedersetting genaamd Scotland op Coligny, waar hy ‘n winkel gehad het, plaasgevind het.
Die minderjarige slagoffer het by familie in dieselfde area gewoon en het gereeld die winkel besoek.
In die hof het sy getuig dat sy die winkel op die dag van die insident besoek het. Defere, wat alleen was, het haar na ‘n sinkhuis agter die winkel gesleep en haar verkrag.
Die voorval is aan die polisie gerapporteer. Die skuldige is gevolglik drie dae later in hegtenis geneem en was in aanhouding tot sy vonnisoplegging.
Neo Sedumedi, staatsaanklaer, het die hof ter verswaring van die vonnis versoek om nie van die voorgeskrewe minimum vonnis van lewenslange tronkstraf af te wyk nie, aangesien omstandighede in ag geneem moet word.
Boitumelo Chulu, die landdros, het met die staat saamgestem en die verantwoordelikheid van die hof teenoor slagoffers en lede van die samelewing, veral vroue en kinders, wat teen sulke gewelddadige dade beskerm moet word, bevestig.
Dr. Rachel Makhari, die direkteur van openbare vervolging in Noordwes en lt.genl. Sello Kwena, die provinsiale polisiekommissaris, het rolspelers vir hul samewerking om die oortreder aan die pen te laat ry, geloof.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



