Dringende ondersoek geëis na aanranding deur BBP-beskermingsbeamptes

Deel hierdie storie / Share this story

Die burgerregteorganisasie AfriForum het ’n dringende ondersoek geëis ná ’n voorval waar lede van die SAPD se BBP-beskermingseenheid motoriste in Gauteng aangerand het.

Die voorval is op video vasgelê en het soos ’n veldbrand op sosiale media versprei. Dit is nie die eerste keer dat lede van hierdie eenheid hul magte misbruik nie. Wat hierdie voorval egter nog meer skokkend maak, is dat dit nou bevestig is dat hierdie lyfwagte aan adjunk-president Paul Mashatile toegewys is.

“Ons verwelkom die feit dat die SAPD reeds ’n ondersoek na die voorval geloods het, maar ongelukkig het hierdie tipe gedrag kenmerkend van dié eenheid geword. Daar was al talle gevalle van boeliegedrag deur hierdie beamptes,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

“Hul roekelose gedrag en roekelose bestuursvermoë het ook al ongelukke veroorsaak, soos in die geval van die 18-jarige Thomas Ferreira wat in ’n kritieke toestand in die hospitaal beland het nadat hy in 2011 deur ’n lid van die destydse Gautengse LUR, Humphrey Mmemezi, se lyfwagte van sy fiets afgestamp is. Niemand is bo die wet verhewe nie en die polisie moet vinnig optree om te verseker dat hierdie boelies daaraan herinner word,” sluit Broodryk af.