Transitorowers vat die hasepad tydens skietgeveg met polisie

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Groep van ongeveer 20 swaar gewapende ‘transitorowers’ het Maandagaand 26 Junie 2023 omstreeks 18:30 hul moses teëgekom en die hasepad gevat toe hulle met polisie in Krielpad, in Witbank (Emalahleni) Mpumalanga, in ‘n skietgeveg betrokke geraak het.

Brig. Selvy Mohlala sê die beweerde verdagtes het in ‘n konvooi van Ford Rangeres, twee silwer en een wit, asook ‘n Toyota Hilux, beweeg.

Hulle het na bewering ‘n kontantwa tot stilstand gedwing en die sekuriteitsbeamptes met vuurwapens aangehou terwyl hulle plofstof gebruik het in ‘n poging om ‘n kontantboks in die kontantwa oop te kry.

Sigbare-polisiëringslede wat in die nabyheid aan diens was, het hulle na die toneel gehaas.

‘n Oor-en-weer-skietery wat minute lank aangegaan het, het ontstaan waarna die rowers besef het die polisielede gaan nie opgee nie en hulle van die toneel in hul voertuie gevlug het.

Geen polisielid is beseer nie. Die enigste besering was dié van ‘n sekuriteitsbeampte wat tydens die ontploffing ernstig beseer is. Hy is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.

Die beweerde verdagtes het, alhoewel hulle daarin geslaag het om ‘n kontantboks oop te kry, nie verder hulle doel bereik nie en die polisie ondersoek die voorval.

Sake van roof, poging tot moord en oortreding van die Wet op Plofstof van Suid-Afrika is geopen.

Geen inhegtenisnemings is tot dusver uitgevoer nie en enigiemand met inligting wat tot die aankeer van die beweerde verdagates sal lei, word versoek om met Stop Misdaad by 08600 10111 in kontak te kom. Alternatiewelik kan die MySAPS-toepassing gebruik word.

Alle inligting sal as vertroulik hanteer word. Inbellers kan anoniem bly.

Lt.genl. Manamela, provinsiale polisiekommissaris, sê: “We are closing in all the spaces for criminals in this province. We want to continue to maintain our presence and ensure that this province is not a playground for perpetrators of crime. We are very proud of the calibre of members on the ground for the bravery that they continually display.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.