Twee verdagtes is op onderskeidelik 26 en 27 Junie 2023 deur speurders van Warden-polisie in die Vrystaat vir die roof van ‘n vulstasie vasgetrek.
AO Mmako Mophiring sê ‘n sekuriteitswag het na wat beweer word op 26 Junie tussen 01:00 en 01:15 ‘n waarskuwing vanaf ‘n paniekknoppie van ‘n vulstasie ontvang.
Die sekuriteitswag het die polisie in kennis gestel.
Met aankoms op die toneel het die petroljoggie vertel hy is deur twee verdagtes met balaklawas, van wie een gewapen was, beroof. Die verdagtes het glo met kontant en ‘n selfoon van die toneel gevlug.
Inligting is opgevolg en een verdagte is in Ezenzeleni-woonbuurt by sy huis in besit van kontant en ‘n selfoon, wat aan die vulstasiewerknemer behoort, gevind.
Hy is in hegtenis geneem en later die dag is ‘n tweede verdagte vasgetrek.
Beide sal na verwagting op klagtes van besigheidsroof in die Warden-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



