Die Demokratiese Alliansie in Dawid Kruiper-munisipaliteit het die Munisipale Bestuurder versoek om ‘n dringende voorlegging oor ‘n onbeplande reis na China te reël. Die kostes vir die reis is nog nie bereken nie, maar die reis is verlede week deur die raad goedgekeur.
Die DA het egter teen die reis gestem, gegewe die skreiende gebrek aan inligting ten opsigte van die doel van die reis, die afvaardiging en die finansiële implikasies. Ons het ook geen besonderhede oor die besoek of voorstelle wat deur die Changsa Stad-afvaardiging tydens hulle besoek op 12 Junie aan Dawid Kruiper gemaak is, ontvang nie.
Volgens die munisipaliteit se voorstel is die doel van dié ekspedisie om vriendskaplike betrekkinge met Changsa City te kweek en om moontlike handels- en beleggingsgeleenthede en die bevordering van kulturele uitruilings te ondersoek. Geen besonderhede word verskaf ten opsigte van watter sektore geteiken word, of watter spesifieke projekte geteiken word nie.
Die kostes van die reis is ook nog nie bereken nie. Dit is ten spyte van die feit dat die finansiële implikasies deur die kontantbeperkte munisipaliteit gedra sal moet word. Dit sluit in vliegkostes, etes en vervoer asook enige ander bykomende kostes soos visumaansoekfooie en versekeringsdekking in.
Die Uitvoerende Burgemeester en Munisipale Bestuurder moet ook nog ‘n besluit neem oor die afvaardiging, op ‘n politieke en administratiewe vlak.
Dit is voortydig vir die munisipaliteit om goedkeuring vir ‘n reis te versoek sonder om ‘n gedetailleerde plan op die tafel te lê. Spesifieke projekte moet geïdentifiseer word en navorsing gedoen word. Daar behoort ook samewerking met rolspelers in die spesifieke sektore te wees en ‘n geskikte afvaardiging moet voorgestel word, sodat die reis werklik waarde vir geld kan bied.
Terselfdertyd wonder ons hoekom dit nodig is vir Dawid Kruiper om so kort nadat die Changsa City afvaardiging hier was, ‘n wederkerige besoek aan China te onderneem. Ons bevraagteken ook die rol van die provinsiale regering, veral die Premier en die Northern Cape Economic Development, Trade and Investment Promotion Agency, in hierdie saak.
Die munisipaliteit is finansieel ingeperk en daar is geen manier dat die DA bereid is om so ‘n vae versoek vir ‘n reis te rubberstempel nie, terwyl geen aanduiding van die verwagte opbrengs op die belegging gegee word nie.
Benewens die oproep vir ‘n dringende aanbieding oor die reis, het die DA ook die Kantoor van die Ouditeur-Generaal hieroor in kennis gestel om te verseker dat hierdie internasionale uitstappie by hul oudit ingesluit word.



