AfriForum het op 15 Junie druk op die Mangaung-metromunisipaliteit geplaas om dringend aandag te skenk aan herstelwerk wat aan ’n gebarste waterpyp gedoen moes word.
Dít volg nadat ’n sinkgat in Bloemfontein se middestad gevorm het omdat dié pyp gebars het. Gevolglik was verskeie ondernemings sowel as ’n studentewoning vir ’n week lank sonder water. Dié munisipaliteit het ook geen poging aangewend om water vir die publiek te voorsien nie.
Ná volgehoue druk deur AfriForum is die gebarste waterpyp die middag van 15 Junie herstel en die sinkgat is opgevul.
“Die munisipaliteit se versuim of onbereidwilligheid om basiese dienste aan inwoners en ondernemings te lewer, is ’n groot bekommernis. Daar is nie eers ’n watertenkwa of waterpunt beskikbaar gestel om die publiek te ondersteun nie. Toegang tot veilige water is ’n basiese grondwetlike reg en die munisipaliteit moet verantwoordelik gehou word vir die voorsiening daarvan,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.



