Die polisie in Noordwes waarsku die publiek oor die toename van kapings in die Bonjala Platinum-distrik wat Brits en Rustenburg insluit.
Kol. Adèle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die waarskuwing aan motoriste kom veral na vier gerapporteerde voorvalle waar afleweringsvoertuie en vragmotors onlangs geteiken en gekaap is.
‘n Man (39) wat ‘n wit Scania-vragmotor, bevattende kookolie, bestuur, het Dinsdagmiddag 13 Junie 2023 langs die N4 naby Swartruggens-tolhek gestop om ‘n draai te loop. Hy is na bewering deur drie vermeende verdgtes in ‘n silwerkleurige Toyota Yaris gekonfronteer. Die slagoffer is glo geblinddoek en in die verdagte voertuig gedwing. Sy besittings en persoonlike dokumente sowel as sy selfoon is gebuit. Hy is glo eers twee dae later by ‘n onbekende plek afgelaai waarna hy die Swartruggens-polisie kon kontak.
In ‘n tweede voorval op Woensdag 14 Junie is die bestuurder (29) van ‘n wit Toyota Hilux, wat onderweg was om medikasie af te lewer, na bewering op die R511 naby die N4-afrit in Brits deur ‘n Ford Figo van voor en ‘n Nissan Almera van agter “ingeboks” en van die pad gedwing is. Hy is glo met ‘n vuurwapen gedreig en moes in die Almera klim. Sy voertuig is gevat. Hy is glo kort na die insident by ‘n onbekende plek in Muldersdrift-lokasie afgelaai. ‘n Verbyganger het hom gehelp om die polisie te kontak.
In nog ‘n voorval wat op 15 Junie omstreeks 05:30 in Rustenburg plaasgevind het, het die slagoffer in sy Toyota Fortuner werk toe gery. Hy is na bewering by ‘n stopstraat op die hoek van Boom- en Zendelingstraat gestop en deur ‘n Ford Ranger en ‘n BMW “ingeboks.” Vier gewapende verdagtes het hom glo uit die voertuig gedwing en daarmee weggery. Hy is langs die pad gestrand gelaat.
In die laaste voorval het ‘n slagoffer (34) Donderdag 15 Junie 2023 omstreeks 20:15 in ‘n Totyota Quatum op die R566-pad te Lokgalong in Marikana bestuur. Hy het sy kollega afgelaai en net daarna het ‘n swart Audi na bewering langs hom gestop. Een van die insittendes het ‘n vuurwapen op hom gerig. Drie verdagtes het in die Quantum geklim en met die slagoffer weggery. Terwyl hulle gery het, het die slagoffer daarin geslaag om uit die Quantum te spring.
Myburgh versoek bestuurders, veral diegene met afleweringsvoertuie, om te alle tye waaksaam te wees.
Die volgende wenke is aan afleweringsvoertuig-bestuurders en bestuurders in die algemeen, gegee:
- Maak seker dat jy nie gevolg word nie. Wees ekstra waaksaam wanneer jy inkopiesentrums of jou werk laat in die aand of vroeg in die oggend, verlaat of wanneer jy op pad huis toe is. Indien jy ‘n vermoede het dat jy gevolg word, ry tot by die naaste polisiestasie of enige besige openbare area.
- Wanneer jy agter ‘n ander voertuig, by aansluitings of verkeersligte stop, maak seker dat jy genoeg spasie aan die voorkant van jou voertuig laat indien jy moet ontsnap.
- Wees versigtig op die pad en weet vooraf waarheen jy gaan om te verhoed dat jy in onbekende areas verdwaal. Wees veral bedag in areas met hoë volumes misdaad en wees op die uitkyk vir verdagte voertuie en persone wat jy aan die polisie moet rapporteer.
- Moenie langs die pad stop of enigiemand ‘n geleentheid gee nie. Indien jy die badkamer moet gebruik, stop by ‘n vulstasie/winkel waar daar mense teenwoordig is.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



