Ma en seun tydens ‘spiking’-insident raakgeskiet

Deel hierdie storie / Share this story

Ankia Strydom en Adriaan Strydom, haar seun, van Selection Park het Vrydag 9 Junie 2023 omstreeks 05:30 tydens ‘n spiking-insident op die hoek van Vaal-rylaan en East Geduldstraat in Pietersfield, Springs skietwonde opgedoen.

Sers. Themba Tshabalala, polisiewoordvoerder, sê die ma was onderweg om haar seun by sy werksplek te gaan aflaai.

Twee van die voertuig se voorbande het skielik gebars. Die voertuig het tot stilstand gekom, waarna twee mans na ma en seun geskiet het en daarna die straat af te voet gevlug het.

Adriaan het ‘n skietwond in sy nek opgedoen en is per helikopter na Union-hospitaal in Alberton gevlieg. Ankia Strydom is per ambulans na die Far East Rand-hospitaal geneem.

Drie staal spikes is in die twee voorwiele van die voertuig gevind. Verskeie 9 mm-doppies, koeëlgate in die voertuig en ‘n projektiel was op die toneel teenwoordig.

Die motief vir die aanval is onbekend.

‘n Saak van poging tot moord word ondersoek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.