‘n Ma van Trenance Park in KwaZulu-Natal wat as ‘n “dwelmverslaafde” bestempel word, het Woensdag 14 Junie 2023 glo haar 10 maande oue seun ontvoer, nadat sy ‘n hofbevel verontagsaam het.
Reaction Unit South Africa sê dat die ma deur die hof onbevoeg verklaar is om na die baba om te sien.
‘n Gemeenskapslid wat die departement van maatskaplike dienste bygestaan het om die baba te soek, het Reaction Unit South Africa se hulp gevra. Reaksiebeamptes het omstreeks 14:46 by die soekgeselskap in Trenance Park-weg aangesluit.
Met aankoms is die beamptes ingelig dat die ma die baba, wat in sy ouma se sorg is, gevat het en met hom gevlug het. Daar is vir twee uur onsuksesvol na die ma en baba gesoek. In een stadium is die ma sonder die baba gevind. Sy het egter verbaal geraak en tydens ondervraging gevlug.
Sy en die baba is weer in Arolla Place gesien waar sy te voet na Inanda Road op pad was. Sy is deur die beamptes onderskep, waarna die baba deur haar familie en maatskaplike werkers van haar verwyder is.
Die ma het na bewering heroïen gebruik toe sy aanvanklik deur die soekgeselskap voorgekeer is, op pad om die baba te gaan haal.
Volgens inligting van haar familie aan die beamptes was sy onlangs vir sewe dae in die gevangenis nadat sy na bewering 145 van hul eksotiese Koi-visse doodemaak het en hul eiendom beskadig het.
Die familie en maatskaplike werkers het verkies om nie ‘n kriminele saak te registreer nie en het hulp vir rehabilitasie aangebied.
Sy het hulp van die hand gewys.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



