‘Dronkbestuurder’ vlug na ongeluk en laat drie kinders vasgekeer in wrak

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Beweerde dronkbestuurder het Woensdagmiddag 14 Junie 2023 ‘n ongeluk in Muniredy-pad in Northdale, KwaZulu-Natal gemaak en van die toneel gevlug terwyl drie kinders nog in die voertuigwrak was.

Mi7 National Group sê die bestuurder het na bewering ook gemeenskapslede en polisielede aangerand. Kriminele sake is dienooreenkomstig oopgemaak.

Beamptes was besig met sigbaarheidsoperasies in die area en is na die ongelukstoneel ontbied.

Volgens lede van die gemeenskap het die bestuurder van die Opel, waarin drie jong kinders was, glo teen ‘n VW Polo gebots. Die bestuurder van die VW Polo wou die bestuurder van die Opel konfronteer, waarna hy hom glo probeer omry het in ‘n poging om van die toneel te vlug. In die proses het hy teen die sypaadjie gebots en die motor het gerol en gegly. Hy het van die wrak gevlug en drie minderjaige passasiers tussen die ouderdomme van ses en 10 jaar oud, in die voertuig gelaat.

Die bestuurder van die Opel, wat te voet deur gemeenskapslede gejaag is, is aan reaksiebeamptes uitgewys, wat ook agter die bestuurder aan is. Hy is uiteindelik in Balhambraweg aangekeer. Hy was glo aggressief en besope.

Gemeenskapslede rapporteer dat hy een van die persone wat hom gejaag het met ‘n klip teen die kop getref het. Hy is op die toneel aangehou totdat die polisie opgedaag het. Hy het na bewering ook tydens aanhouding by die polisie gepoog om ‘n beampte aan te rand.

Die “dronkbestuurder” is van poging tot moord, roekelose en nalatige bestuur, aanranding van ‘n polisiebeampte en nog ‘n aanrandingsaak aangekla nadat ‘n gemeenskapslid ‘n saak gemaak het.

Mi7 National Group Emergency Medical Services het ‘n beseerde voetganger op die toneel gevind wat verkies het om self na ‘n hospitaal te gaan. Hy is glo beseer toe die Opel die sypaadjie getref het.

Die kinders is deur gemeenskapslede en onderwysers van ‘n nabygeleë skool uit die wrak gehaal. Hulle is geassesseer, waarna twee vir verdere mediese hulp na ‘n hospitaal geneem is.

Die persoon wat deur die klip getref is, is ook hospitaal toe geneem.

Alle betrokkenes wat die bestuurder agternagesit en die kinders uit die voertuig gehaal het, is deur Mi7 National Group bedank.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.