Lees ook: Dawid Kruiper moet verdere Oranjerivier besmetting verhoed
Die Demokratiese Alliansie (DA) het onlangs die 2023-2024 Dawid Kruiper-begroting teengestaan en gaan voort om onbillike tariefverhogings te beveg. Die begroting straf inwoners wat reeds sukkel om weens hoë lewenskostes te oorleef. Hulle word beboet vir die munisipaliteit se finansiële wanbestuur en swak dienslewering.
Teen die einde van April was uitstaande skuld van R265 miljoen, wat ouer as 30 dae was, aan die munisipaliteit verskuldig. Die munisipaliteit versuim ook om sy debiteure betyds te betaal en R93 miljoen was ook ná 30 dae nog uitstaande. Personeelkoste oorskry 47% van uitgawes. Oortydkoste is buite beheer, aangesien dieselfde herstelwerk herhaaldelik onderneem word, wat die instandhoudingsagterstand vererger. Die munisipaliteit het niks gedoen om dit aan te spreek nie.
Die burgemeester het sy begroting van R600 000 tot R1 miljoen verhoog om toegang tot diskresionêre befondsing te verbeter om geleenthede soos die Paasfees sokkertoernooi te borg. Indien sulke toernooie reg bestuur word, kan dit egter inkomste vir die munisipaliteit genereer.
Die munisipaliteit het te afhanklik geraak van inkomste wat uit elektrisiteit- en waterverkope gegenereer word om kop bo water te hou, terwyl dit inwoners in armoede ploeg.
Die versuim om elektrisiteitsverliese te prioritiseer dra ook by tot die 18% elektrisiteitstariefverhoging, wat byna 3% bo die NERSA goedgekeurde verhoging is. Vir die tydperk van Januarie tot Mei 2023 is meer as R 6,577 miljoen se ongemagtigde elektrisiteitsgebruik ontdek, maar die munisipaliteit het versuim om die aanstelling van personeel te prioritiseer om ongemagtigde gebruik verder bloot te lê en aan te spreek. Dit is ten spyte van ‘n aanbeveling deur NERSA in 2021, vir ‘n voorgestelde personeelkomponent om elektrisiteitsvoorsiening te verbeter.
Die koste van duisende liter waterverliese weens lekkasies wat nie deur die munisipaliteit herstel word nie, het ook bygedra tot die watertariefverhoging van 5% waarmee inwoners belas word.
Die DA het gister ’n oudit van waterverliese, insluitend ongeregistreerde watermeters en lekkasies, aangevra. Ons sal in die komende raadsvergadering ‘n mosie ter tafel lê waarin gevra word dat die elektrisiteitstarief van 18% verlaag word, in ooreenstemming met die NERSA-riglynverhoging van 15,10%. Ons sal ook weereens ‘n versoek rig vir ‘n professionele oudit van personeel om dienslewering en uitgawes te verbeter, al is twee vorige versoeke al twee keer in die raad teengestaan.
Elke bietjie help om inwoners se finansiële swaarkry ietwat te verlig.
*PERSVERKLARING
Lees ook: Dawid Kruiper moet verdere Oranjerivier besmetting verhoed



