Lees ook: Dawid Kruiper must stop further Orange River contamination
Die Demokratiese Alliansie plaas druk op Dawid Kruiper-munisipaliteit om dringend te keer dat ‘n rioolstorting die Oranjerivier verder besoedel.
Riool stort al vier jaar in die nywerheidsgebied. Die storting het so uitgebrei dat dit nou duidelik uit verstopte mangate uitstoot. Dit het ‘n rivier geskep wat van agter Dr Nelson Mandela-rylaan af loop, verby CTM, agter Midas tot by die treinbrug wat onder Schröderstraat vloei, in Steenbokstraat en dan op die perseel van Africa River Lodge en in die rivier.
Die stank raak sakelui. Die geaffekteerde lodge-eienaar kan ook nie besprekings neem of dagbesoekers vir visvang akkommodeer nie.
Die situasie hou ‘n direkte gesondheids- en omgewingsbedreiging in vir inwoners en die betrokke area.
Die kommerwekkendste kwessies is dat dit ook die Noord-Kaap se sleutelwaterbron, die Oranjerivier besoedel, wat ‘n belangrike rol in die Suid-Afrikaanse ekonomie speel deur toerisme en die voorsiening van water vir besproeiing.
Die DA het die saak in die komitee en in die raad geopper. Sedert Augustus 2022 het ons ook die Direkteur van Siviele Dienste by drie geleenthede na die plek van die lekkasie vergesel, en die Munisipale Bestuurder by een geleentheid. Ons is aangesê om geduldig te wees en dat die saak binnekort opgelos sal word. Terwyl die munisipaliteit die rioollyn in Paballelo, Rosedale en by die rioolaanleg die afgelope drie jaar opgegradeer het, is niks aan die rioolinfrastruktuur in die dorp gedoen nie. Dit sluit nog ‘n lekkasie naby die Kalahari Mall in, wat al maande lank spoel.
Gegewe die dringende behoefte vir ‘n ingryping, doen die DA terselfdertyd ‘n beroep op verskeie belanghebbendes vir ‘n noodingryping in die hoop dat hierdie saak uiteindelik die nodige aandag sal geniet. Ons het dus ’n klag by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien, asook briewe gerig aan die departement van Water en Sanitasie, die LUR van Omgewingsake, die Groen Skerpioene, die LUR van COGHSTA en die premier, waarin dringende hulp versoek word.
Indien dit nie die gewenste resultate behaal nie, sal ons nie huiwer nie om strafregtelike klagte teen die apatiese munisipaliteit, sowel as al die provinsiale en nasionale departemente wat versuim om teen hierdie ernstige rioolmislukking op te tree, te lê.



*PERSVERKLARING
Lees ook: Dawid Kruiper must stop further Orange River contamination



