Suid-Afrika se geliefde primadonna, die legendariese sopraan, Mimi Coertse, vier vandag haar 91ste verjaarsdag.
Mimi is in 1932 in Durban gebore.
Sy het aan die Hoër Meisieskool Helpmekaar in Johannesburg gematrkuleer en met sangstudies in 1949 begin.
Haar debuutvertoning was op 11 Desember 1951 in die Johannesburgse stadsaal. In 1956 debutteer sy by die Weense Staatsopera as die Koningin van die Nag in Die Towerfluit van Mozart en raak gou bekend as die liefling van Wene.
Sy sou dié rol meer as 500 keer in vier tale op verskeie wêreldverhoë vertolk en ontvang die hoogste eerbewys van die Oostenrykse regering, naamlik die Erekruis, eerste klas. Sy ontvang ook die Oostenrykse titel van Kämmersangerin en verskeie eredoktorsgrade, medaljes en dekorasies in haar geboorteland.
Coertse was drie keer getroud. Haar eerste huwelik was vanaf 1953 tot 1957 met die Suid-Afrikaanse komponis Dawid Engela. In 1965 is sy met die Italiaanse sakeman Diego Brighi getroud, maar hulle is na vier jaar geskei.
Van 1970 tot 1994 was sy met die Suid-Afrikaanse sakeman, Werner Ackerman, getroud Na vyf miskrame het hulle vir Werner en Mia aangeneem.
Op 26 Januarie 2020 is Mimi ook as ‘n lewende legende in die Suid-Afrikaanse Legende-museum ingehuldig. Sy is een van slegs 20 Suid-Afrikaanse legendes van wie ook ‘n borsbeeld gemaak is.



