Groot glimlag toe dogtertjie begeerde rokkie kry

Deel hierdie storie / Share this story

Die dogtertjie van die begeerde rokkie is gekry.

Denise Smith, eienaar van Cotton Lily, het vroeër aan FiND iT vertel sy is op soek na ‘n dogtertjie wat op 7 Mei by die Casterbridge-mark in Witriver was waar sy en haar pappa na die spesifieke rokkie gekyk het.

“Die kind wou graag die rokkie gehad het, maar haar pappa het gesê sy moet eers deur die hele mark loop om te kyk of daar nie iets anders is wat sy graag sal wil hê nie.”

Na ongeveer twee uur het hulle nog nie weer terugekom en Smith het aangeneem dat hulle intussen iets anders gekry het.

Die volgende naweek, by die Laeveld-lugskou in Nelspruit, het ‘n vrou wat ‘n stalletjie langs Smith gehad het, aan haar vertel dat die dogtertjie en haar pappa net na sy weg is, teruggekom het en dat hulle graag die rokkie wou koop.

Die kind was in trane.

Amper twee weke later is die dogtertjie opgespoor en het sy haar rokkie gekry.

Denise vertel aan FiND iT die dogtertjie se ouma het Sondag 28 Mei vir haar ‘n foto van Danya gestuur en vertel dat sy die hartseer kind was wat graag die rokkie wou koop, maar Denise was reeds weg van die mark af.

“Danya het haar rokkie die 2de Junie by dieselfde mark kom haal en ek sal die glimlag op haar gesiggie nooit vergeet nie!”