Cholera-krisis: Vrystaat bevestig tweede sterfte, dodetal styg tot 32

Deel hierdie storie / Share this story

Die nuus van nog ‘n sterfgeval aan cholera kom warm op die hakke van president Cyril Ramaphosa se erkenning dat die regering die mense van Hammanskraal, noord van Pretoria, in die steek gelaat het. Hy het die bekentenis Donderdag gemaak tydens ‘n toespraak voor lede van die gemeenskap.

Die jongste sterfgeval is ‘n 42-jarige vrou van Parys, wat dood is nadat sy in die hospitaal opgeneem is.

“Sy is in die Boitumelo-hospitaal in Kroonstad opgeneem en is ongelukkig dood. Daar word bevestig dat die pasiënt gesterf het en daarna het laboratoriumtoetse bevestig dat die dood aan cholera toegeskryf kan word,” het Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid, gesê.

Mvambi het Donderdagaand met SAUK-nuus gepraat en gesê dit is steeds nie bekend waar die 42-jarige die siekte opgedoen het nie.

“Dit is onbekend, want soos dit is, bly die werklike bronne onbekend en daarom waardeer ons as departement van gesondheid die harde werk wat deur die departement van water en sanitasie en verskeie departemente gedoen word.

“Ons as die departement en ander belanghebbendes beywer ons om bewustheid te kweek, op te voed en gesprekke met die gemeenskappe te fasiliteer oor die beste voorkomende maatreëls om enige potensiële infeksies van die siekte hok te slaan en om te verseker mense wat besmet is, versprei nie die siekte verder nie.”