Kamogelo Molorwe (25) is Woensdag 7 Junie 2023 in die Noordwes-Hoër Hof ‘n lewenslange vonnis vir die moord op Busisiwe Jaki (34), sy meisie, ontvang nadat hy haar Donderdag 30 Junie in haar gehuurde kamer in Mogwase met ‘n mes doodgesteek het.
Kol. Adél Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die oorledene was ‘n onderwyseres. Op die betrokke dag het ‘n argument in die vroeë oggendure ontstaan wat tot haar steekdood gelei het. Haar vierjarige kind was in die kamer teenwoordig.
Molorwe is dieselfde dag in hegtenis geneem en is sedertdien in aanhouding nadat die staat sy borgaansoek geopponeer het.
Hy is Maandag 5 Junie 2023 skuldig bevind en is tot lewenslange tronkstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het. Hy is ook in terme van die vuurwapenwet onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Adv. Jessica Molefe, die staatsaanklaer, het betoog dat Molorwe Jaki se kinders van hul reg ontneem het om ‘n moeder te hê. Die beskuldigde se optrede het geen genade gehad nie. Hy het voorts gesê dat ‘n kind in so ‘n situasie steeds lewendige herrinneringe van haar ma, wie se lewe deur die beskuldigde se hande kortgeknip is, koester.
Lt.genl. Sello Kwena, provinsiale kommissaris en dr. Rachel Makhari, die direkteur vir openbare vervolging, het die vonnis verwelkom en sers. Masego Kgake, die ondersoekbeampte van Mogawe-speurtak en adv. Jessica Molefe vir hul samewerking en toewyding wat tot die skuldigbevinding gelei het, geloof. Hulle het verder gesê dat die vonnis beslis ‘n duidelike boodskap sal uitstuur dat misdaad, insluitend geslagsgebaseerde geweld en vrouemoord (GBVF), nie geduld sal word nie.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



