‘n Vroulike student is glo Dinsdag op die Nelson Mandela-universiteitskampus (NMU) deur ‘n manlike student doodgesteek.
Daar word vermoed dat die 20-jarige slagoffer in haar slaapkamer by ‘n koshuis op die kampus aangeval is.
Polisiewoordvoerder, sers. Christopher Spies, sê voorlopige verslae dui daarop dat die polisie na die kampus gestuur is ná berigte van ‘n gewelddadige voorval.
“By hul aankoms het die lede die slagoffer binne ’n ambulans gevind met verskeie steekwonde aan die liggaam. “Sy is deur paramedici op die toneel dood verklaar.”
’n 22-jarige man is op die toneel in hegtenis geneem en staan tereg op ’n aanklag van moord.
Die universiteit, veral die George-kampus, het sy meegevoel met die familie en vriende van die oorledene betuig.
Luidens ‘n verklaring van die universiteit is berading, pastorale en ander psigososiale ondersteuningsmeganismes gereël vir studente en personeel wat deur die tragedie geraak is.
Hulle het ‘n beroep op kalmte en sensitiwiteit gedoen terwyl die polisie-ondersoek sy gang gaan.
Die motief vir die moord is nog onbekend en die naam van die slagoffer is nie aan die media bekend gemaak nie.



