Solidariteit het Dinsdag saam met sowat 30 ander organisasies ‘n resolusie onderteken om die voorgestelde wysigings aan die Wet op Diensbillikheid te beveg. Politieke partye, insluitend die DA, Vryheidsfront Plus, ActionSA, meningsvormers en ander organisasies het hierdie werksessie bygewoon waartydens die resolusie onderteken is.
In die resolusie onderneem die betrokke deelnemers om die regering se stelsel van sosiale manipulasie te verwerp en teen die wet te protesteer. Hierdie wet en sy regulasies gee mag aan die minister van indiensneming en arbeid om die Suid-Afrikaanse samelewing op grond van hul velkleur te manipuleer.
Deelnemers aan die program en besprekings het ingesluit Flip Buys, John Steenhuisen, Pieter Groenewald, Piet le Roux, Gerhard Papenfus, Sihle Ngobese, Renè Govender, Phumlani Majozi en Theuns Eloff.
Die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) se impakstudie oor die gevolge van hierdie wetgewing is tydens die werkswinkel aangekondig. Hierdie studie het bevind dat nie net duisende minderhede hul werk sal moet ontruim nie, maar daar is ook bewyse van die ondeurdagte manier waarop die regering te werk gegaan het met die opstel van hierdie wetgewing.
“Die regering se politieke speletjies sal ‘n bloedbad in die arbeidsmark veroorsaak. Dit hou ’n bedreiging in vir die land se ekonomie en vir die welstand van Suid-Afrikaanse burgers. Die burgerlike samelewing besef dit ook. Dit is om hierdie rede dat ons by hierdie werkswinkel bymekaargekom het. Dit wys dat Suid-Afrikaners van regoor die spektrum nie sulke absurditeite sal duld nie, en dat ons almal bereid is om teen die regering se misbruike te veg.
“Vandag het ons geskiedenis gemaak. Dit was een van die grootste byeenkomste van politieke partye en burgerlike organisasies tot nog toe. Almal wat teenwoordig was, deel die oortuiging dat ons beslissend moet optree teen die misbruik van die regering. Daar is vanuit die werkswinkelgeledere besluit dat elke organisasie en party van hier af sal voortgaan om hierdie rassewet teë te staan, en ons het ‘n gesamentlike resolusie onderteken waarin ons onsself daartoe verbind. Hierdie onreg sal eenvoudig nie meer geduld word nie,” het dr. Dirk Hermann, Solidariteit se uitvoerende hoof, gesê.



