Drakenstein-munisipaliteit in die Paarl is die bes bestuurde sekondêre stad in SA

Deel hierdie storie / Share this story
Die kantoor van die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika (OGSA) het sy jaarlikse oorsig van plaaslike munisipaliteite gepubliseer wat ouditresultate vir die 2021/22-boekjaar dek. Die verslag toon dat DA-bestuurde regerings verreweg beter as die res presteer, met die Drakenstein-munisipaliteit wat bo uitkom, as die bes bestuurde sekondêre stad in die land.

Chris Hunsinger-LP en DA-kiesafdelingshoof, Drakenstein, sê die verslag toon ongelukkig 'n voortdurende afname in die finansiële gesondheid van Suid-Afrika se munisipaliteite, met die oorgrote meerderheid (85%) wat nie skoon oudits ontvang nie. Slegs 15% van die 257 munisipaliteite in Suid-Afrika het 'n skoon oudit behaal.

Die OGSA lys 33 munisipaliteite in die land wat daarin geslaag het om opeenvolgende skoon oudits te behaal, waarvan die meerderheid in die Wes-Kaap is.

Die Noordwes het geen munisipaliteite in die rangorde nie en vir die sesde agtereenvolgende jaar het munisipaliteite in die Vrystaat nie 'n enkele skoon oudit ontvang nie.

Die DA in Drakenstein loof die DA-beheerde Drakenstein-munisipaliteit vir hul verbintenis tot skoon bestuur en die lewering van dienste aan alle gemeenskappe. Dit word weerspieël in sy onlangs aanvaarde 2023/24-begroting wat daarop gemik is om ’n ekonomiese omgewing moontlik te maak wat werk skep, die armes ophef en voortbou op ’n rekord uitstekende dienslewering.