Lees ook: Woolworths gekritiseer vir ‘Pride month’-veldtog
Die ANC-beheerde Sol Plaatje-munisipaliteit se prioritisering van kaderontplooiing en politieke inmenging eerder as om bekwame mense aan te stel word deur die 2021/22 munisipale oudituitkomste ontbloot. Sol Plaatje-munisipaliteit is uitgewys as die topbydraer van ongemagtigde, vrugtelose, verkwistende en onreëlmatige uitgawes in die Noord-Kaap.
Volgens die ouditeur-generaal (OG) se verslag word bewyse vir werk wat gedoen is nie altyd deur die munisipaliteit verskaf nie, al het die OG dié inligting aangevra. Die nie-nakoming van tenderprosesse is kommerwekkend. Die raad ontvang baie versoeke om afwykings goed te keur. Noodgevalle kan nog verstaan word, maar versoeke vir afwykings gebeur ook gereeld met roetinewerk en kapitaalprojekte soos die elektrifisering van Lerato Park, die handelsgebied in Cravenstraat en die rioollyn in Carters Glen. Die DA het hierdie tendens al voorheen in komiteevergaderings bevraagteken en ook bewyse van werk aangevra, maar die saak word altyd na ‘n ander vergadering uitgestel. Ons kry nooit antwoorde nie.
Die DA het verder kommer uitgespreek oor die meer as R500 miljoen onreëlmatige uitgawes wat oor die afgelope vyf boekjare aangegaan is. Ons het wel die saak na die Munisipale Openbare Rekeninge Komitee verwys, maar dit is nog nie ondersoek nie.
Inaggenome die hoë waterverliese, bevraagteken ons ook die vertraging in die aanwending van die multimiljardrand Waterdienste-infrastruktuurtoelaag (WSIG) om Sol Plaatje se waterinfrastruktuur op te gradeer. Ons is herhaaldelik meegedeel dat alles gereed was om met die werk te begin, maar die werk is twee keer uitgestel. Dit lyk nou asof dit onbepaald uitgestel word.
Die Demokratiese Alliansie is van mening dat die swak oudituitkomste en verslegtende toestand van finansiële bestuur binne Sol Plaatje grootliks moontlik gemaak is deur onstabiliteit in senior bestuursposte.
Terwyl die raad die werwing van direkteure laat verlede jaar goedgekeur het, het die proses nog nie eers sover gevorder dat die raad die siftingspaneel vir daardie poste goedkeur het nie. Nadat die DA die prosesse bevraagteken het, het die Speaker verder verhoed dat die munisipale bestuurder ‘n opdatering verskaf.
Op sy beste, tree die munisipaliteit en sy senior amptenare roekeloos op. In die ergste geval probeer hulle doelbewus om stabiliteit en aanspreeklikheid te vermy.
Die DA het reeds ’n mosie ter tafel gelê waarin versoek word dat ongemagtigde, vrugtelose, verkwistende en onreëlmatige uitgawes sedert die 2017/18-boekjaar ondersoek word sowel as dat ’n versoek aan die Spesiale Ondersoekeenheid ingedien word om bewerings van politieke inmenging binne Sol Plaate te ondersoek.
*PERSVERKLARING



