Monique Strydom, ‘n kleuter, is na bewering deur haar ouma en haar lewensmaat in Allanridge ontvoer.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê Monique het gedurende Desember 2022 saam met haar ma, Megan Wilders, by haar ouma, Lindy Strydom en haar lewensmaat, Almarie Pretorius Strydom, in Allanridge gekuier.
‘n Argument het na bewering tussen Megan Wilders en haar ma Lindy Strydom plaasgevind.
Wilders wou met haar dogter Gauteng toe gaan, maar haar ma het haar glo verhoed om die kleuter saam te neem.
Megan Wilders is toe glo op 26 Desember weg na Randburg in Gauteng terwyl haar kleuterdogter Monique Strydom by die ouma agtergebly het.
Wilders het haar ma blykbaar gekontak om haar dogter terug te kry, waarop haar ma glo geweier het.
Maatskaplike werkers van Odendaalsrus is van die insident in kennis gestel en wou die ouma en haar lewensmaat, by wie Monique veronderstel was om te wees, besoek, maar hulle was nêrens te vinde.
Verskeie pogings is deur Wilders aangewemd om haar dogter op te spoor, maar niemand weet waar die kleuter, haar ouma en dié se lewensmaat hulle bevind nie.
Hulle het ook hul selfoonnommers verander en kan dus glo nie opgespoor word nie.
Wilders het op 12 Mei 2023 ‘n ontvoeringsaak in Randburg by die polisie geopen, wat intussen op 19 Mei 2023 na Allanridge-polisiestasie toe oorgeplaas is.
Die saak word deur speur.AO Anja Tait van GKS ondersoek.
Die SAPD is op soek na Lindy Strydom en haar lewensmaat Almarie Pretorius Strydom wat vermoedelik met die kleuter in Swartruggens in Noordwes kan wees.
Enigiemand wat weet waar hulle hul met die kleuter Monique Strydom bevind,kan met AO Anja Tait in verbinding tree by 083 279 3213 of Stop Misdaad by 08600 10111.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



