Hoërskool Brandwag spog met ‘n formidabele bench press-span, wat meestal uit meisies bestaan.
Ilze-Mari Maritz het in 2011 as by die skool as afrigter begin werk. Sy het self in 2010 die sport begin beoefen en is in 2011 vir die SA- junior span wat in Kanada deelgeneem het, verkies. Hier het sy die sewende plek losgeslaan en is sy na die 2011 Commonwealth Powerlifting Championships in Bournemouth waar sy ‘n eerste plek verower het.
In 2012 kon sy die eerste drie leerlinge wat sy by die skool afrig vir die Wêreld-kragoptelkampioenskappe na Poland neem. Die eerste leerlinge van die skool het hul SA-kleure verwerf.
Meer onlangs het van die meisies aan die World Classic and Equipped Bench Press Championships deelgeneem.
Catinka Fourie (18), wat nou maar ‘n jaar aan die sport deelneem, het ‘n vierde plek in die o/63 kg-afdeling met ‘n bankdruk van 52,5 kg behaal. Die sub-junior span waarvan sy deel is het ‘n eerste plek by die World Classic Bench Press Championships behaal. Sy het ook ‘n nuwe Afrika-bankdrukrekord verower.
Sunelle Putter (19), wat ook ‘n jaar aan die sport deelneem, is as die wêreldkampioen in die 84+ junior afdeling met ‘n bankdruk van 92.5 kg, bekroon. Die sub-junior span waarvan sy deel was, het ‘n tweede plek by die kampioenskappe verower.
Anika Maree (17), wat die sport ook slegs ‘n jaar beoefen, is as die sub-junior kampioen in die o/76 kg-afdeling met ‘n bankdruk van 70 kg bekroon. Sy stel dus ook volgens hul afrigter nuwe rekords op in beide sub-junior en junior afdelings. Sy spog ook met ‘n nuwe rekord in die Statebond se sub-junior en junior afdelings.
Hierdie meisies wat so pas gekwalifiseer het en ander spanmaats van Hoërskool Brandwag is verkies om van 24 Augustus tot 3 September 2023 in Roemenië aan die World Sub-junior and Junior Powerlifting Championships deel te neem.
Pearl Bucwa, Catinka Fourie, Chanté Mulder, Nicole Loubser (reserwe) Anika Maree (reserwe) en Stephené Loubser (reserwe) het alle hulp nodig om hierdie toer te kan meemaak.
Vir enige hulp kan daar met André Ludik, die Oos-Kaapse president van Powerlifting by 083 2861398 in verbinding getree word.
FiND iT het met Catinka oor haar prestasies gesels.
Sy het eers in 2021 aan Crossfit deelgeneem en agtergekom dat sy van bankdruk hou. Haar swaarste dooiegewigoptel wat sy al gedoen het, was 125 kg.
En net om seker te maak dat FiND iT verstaan, verduidelik sy die verskil tussen bench press, powerlifting en hoe die ouderdom- en gewigsafdelings nou eintlik werk.
“Ons maak seker om nie ons spiere te beseer nie deur goed te strek.”
Op ‘n vraag of iemand in haar familie al teen haar arm gedruk het, lag sy: “Nee hulle is te bang.”
“Ek moes mooi vir my pa wat in die buiteland weg-werk verduidelik wat dit nou eintlik is wat ek doen.”
En natuurlik is sy nie net met gewigte behep nie. Sy hou daarvan om haar oefenklere vir ‘n mooi rok en oorbelle te verruil.
“Mense wat my sien, sal nie dadelik opmerk dat ek gym en gewigte optel nie.”
Hierdie klein meisie wat nie onderskat moet word nie, oefen tussen ‘n uur en twee uur elke dag behalwe Saterdag en maak gebruik van die skool of die dorp se gimnasium.
“Met die kampioenskappe was dit so lekker om al die verskillende tale te hoor. Dit was ‘n belewenis,” vertel sy opgewonde.
En dan lag sy toe FiND iT vra of haar kêrel vir haar bang is: ” Hy is glad nie bang vir my nie, al glo ek dat ek sterker as hy is.”
Anika Maree (16) vertel dat sy in Januarie 2022 ná Covid 19 met kragoptel as sport begin het.
“Ek het sommer gou-gou agtergekom dat hierdie ‘n sport is waarin ek kan presteer en dit nogals in ‘n sport wat deur die manlike geslag gedomineer word.”
Sy sê aan FiND iT dat sy so vinnig opgang gemaak het dat sy reeds aan die Wêreld Equpped Kragoptelkampioenskappe in Turkye deelgeneem en ‘n vyfde plek behaal het.
“Toe het die gogga behoorlik gebyt.”
Nadat sy teruggekeer het uit Turkye het sy aan die SA-bankdrukkampioenskappe in Potchefstroom deelgeneem.
“Dit was my minder gunstelingafdeling uit die drie dissiplines van kragoptel en ek wou nie regtig deelneem nie. Maar my pa, wat intussen ‘n groot aanhanger van die sport geword het, het my oorreed om deel te neem.”
Anika sê dat sy haar stoutste verwagtinge oortref het en boonop vir die SA-span gekies is wat aan die Wêreld Bench Press Kampioenskappe in Sun City deelgeneem en ‘n eerste plek verower het, sowel as die wêreldkampioen in die o/76 kg sub-junior Equipped-afdeling vir vroue bekroon is.
“Ek het vier rekords verbeter, naamlik die Afrika-rekord in die sub-junior en junior divisie in my klas, asook die Statebond-rekords in die sub-junior en junior divisie vir Equipped Bench Press.”
Op ‘n vraag wat haar uitdagings is, antwoord sy: “As toegewyde leerder en boekwurm is dit soms ‘n uitdaging om my tyd in die gimnasium en tyd agter die boeke te balanseer, maar met my goeie ondersteuningsnetwerk kry ek genoeg tyd vir beide.”
Dan sê sy dat haar grootste aanhanger en soms grootste dryfveer beslis haar tweelingbroer is.
“Omdat ek soms bietjie kompeterend kan wees en hy ook ‘n kranige sportman is wat die OP in atletiek en landloop verteenwoordig. Ek verteenwoordig ook my skool in die atletiekspan en landloopspan.”
En dan sluit sy af met hierdie trotse brokkie: “Aan die einde van 2022 was ek aangewys as my skool se junior sportvrou van die jaar en is die houer van 12 Statebond Equipped kragoptelrekords.”

Foto’s: Verskaf

Foto’s: Verskaf

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



