‘n Matriekleerder (17) is Donderdag verkrag en vermoor nadat sy van die skool af op pad huis toe gestap het.
Die onstellende gebeurtenis het skokgolwe deur die land gestuur. Die LUR vir onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, sal vandag, 29 Mei 2023, die skool en familie van Palesa Malatji, van die Sekondêre Skool Ntsako in Soshanguve, Tshwane, besoek.
Volgens Steve Mabone, woordvoerer van die departement, het Malatji se familie haar gaan soek nadat sy ekstra klasse bygewoon het en nie weer teruggekeer het huis toe nie.
Haar liggaam is op Vrydag, 26 Mei 2023, seksueel aangerand, langs die Sekondêre Skool Echibini in Soshanguve gevind.
“Ons is verpletter deur hierdie grusame voorval op een van ons leerders. Ons wil ons innige meegevoel aan die familie en skoolgemeenskap betuig. Ons sal ons sielkundige ondersteuningspan aan die skool en familie beskikbaar maak. Ons doen ’n beroep op die polisie om die oortreders van hierdie misdaad dringend in hegtenis te neem,” het LUR Chiloane gesê.



