‘n Man word deur die moontlikheid van tot 10 jaar gevangenisstraf in die gesig gestaar nadat hy die nooduitgangdeur van ‘n vliegtuig oopgemaak het terwyl dit nog sowat 200 meter hoog in die lug was.
Die man was een van 200 passasiers op ‘n vliegtuig van die Asiana-lugdiens toe hy skielik “benoud” geword het en so gou moontlik die vliegtuig wou verlaat, berig CNN.
Die vliegtuig was besig om te daal om by die Daegu- internasionale lughawe in Suid-Korea te land toe hy die deur oopgemaak het.
Na ‘n suksesvolle landing is die man deur die polisie vir ondervraging ingeneem. Volgens hom is hy tans baie gespanne omdat hy sy werk onlangs verloor het. Hy het glo gevoel die vlug neem langer as wat dit moes en het daarom benoud gevoel binne-in die vliegtuig.
Hy kan tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis word weens die oortreding van lugvaartveiligheidswette. Video’s van die voorval is wyd op sosiale media versprei. Daarin kan gesien word hoe die wind teen ‘n baie hoë spoed deur die kajuit beweeg.




