Iron/Bianca: Vermeende TikTok-‘scammer’ gee haar aan SAPD oor

Deel hierdie storie / Share this story

Die verdagte “Iron”, ook bekend as Bianca, het haarself onlangs aan die polisie in Durban oorgegee.

Is jy bewus van die TikTok-drama met Iron, oftewel Bianca?

Mike Bolhuis, privaat ondersoeker, het vroeër besluit om ondersoek in te stel nadat ‘n persoon wat baie bekend was op die sosialemediaplatform TikTok glo selfdood gepleeg het nadat sy die slagoffer van kuberboelies was.

Volgens Bolhuis is daar verskeie partye by die “scam” betrokke. Die persone wat glo hierby betrokke is, se name kan nog nie bekendgemaak word nie.

In Desember 2022 het Iron, oftewel Bianca, haar profiel op TikTok oopgemaak. Sy het voorgegee dat sy teen boelies is en so het haar volgelinge gegroei.

In Januarie vanjaar het Bianca die TikTok-gemeenskap se simpatie gewen toe sy van haar “miskraam” vertel het. Verskeie TikTok-gebruikers het altesaam R175 000 ingesamel om vir Bianca se ongebore baba se begrafnis te betaal.

In Maart vanjaar het Bianca voorgegee dat sy die slagoffer is van kuberboelies.

In April, na ‘n emosionele argument in ‘n regstreekse TikTok-video, het Bianca glo selfdood gepleeg. Haar “ma” het die dag na die argument in ‘n stemboodskap vertel dat sy haarself om die lewe gebring het.

Na Bolhuis se indiepteondersoek kon Specialized Security Services vasstel dat daar nooit ‘n selfdood-voorval was nie en dat alles ‘n klug was.

Die TikTok-gemeenskap is woedend en soek antwoorde, sê Bolhuis. “Die voorval dien as ‘n waarskuwing om altyd versigtig te wees wanneer jy aanlyn met mense te doen het en om navorsing te doen voordat jy geld aan iemand oorbetaal.”

“Ons kan ‘n veiliger en meer verantwoordelike aanlyn gemeenskap skep deur saam te werk,” sê Bolhuis.

Bolhuis het onlangs bekendgemaak dat die vrou, Iron, haarself aan die polisie oorhandig het. Haar identiteit is aan FiND iT bekend, maar sal weerhou word totdat sy in die hof verskyn het.