‘n Besigheidsroof het Dinsdag 23 Mei 2023 by Ackermans in Northam Plaza, Limpopo, plaasgevind.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê ‘n werknemer het glo saam met ‘n kollega by die hoofingang van die winkel gestaan toe ‘n onbekende verdagte die winkel binnekom en ‘n vuurwapen wat in sy broek weggesteek was, op hulle rig.
Die twee werknemers is na bewering gedwing om na die stoorkamer te stap toe nog drie manlike verdagtes hulle nader en vra wie die winkelbestuurder is.
Sy is glo uitgewys waarna sy beveel is om selfone en geld wat op die perseel gestoor was, te oorhandig.
Die verdagtes wat Zoeloe gepraat het, het glo personeellede en klante wat gedurende die rooftog in die winkel was, na die agterkant van die winkel gedwing terwyl hulle met ‘n vuurwapen gedreig is.
Die slagoffer is beveel om die kluis oop te sluit, maar sy was onsuksesvol.
Die verdagtes kon glo daarin slaag om ‘n selfoonlaai en -kabinet oop te maak en het selfone en ‘n onbekende bedrag kontant van die kasregisters gesteel.
218 Android-selfone ter waarde van duisende rande is gebuit waarna die verdagtes in ‘n wit Audi met Gauteng nommerplate van die toneel gevlug het.
Daar word na die verdates gesoek terwyl die ondersoek voortduur.
Enigiemand met inligting word versoek om met enige polisiestasie of Stop Misdaad by 08600 10111 in aanraking te kom.
Alternatiewelik kan daar van die MySAPS-toepassing gebruik gemaak word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



