Visserman se liggaam in branders gevind

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Plaaslike visserman van St. Francisbaai se liggaam is Dinsdag 16 Mei 2023 omstreeks 08:55 tydens ‘n lug, see en kuslyn-soektog in die branders naby rotse van Shark Point gevind.

NSRI St. Francisbaai se diensbemanning is die oggend 07:52 te water en op land geaktiveer. Dít na aanleiding van berigte van ‘n plaaslike visserman, wie se Catamaran waarmee hy gereeld visvang, onbeman op rotse by Shark Point, wes van Shark Point Light, uitgespoel het.

Daar is dadelik vermoed dat die visserman dalk vermis is.

‘n Ander visserman wat op die Catamaran afgekom het, het alarm gemaak en dadelik met ‘n soektog in die omgewing begin.

‘n Aantal lede van die publiek wat vrywillig hulp aangebied het, is ook tydens die soektog ontplooi.

Talle rolspelers wat die SAPD, hul duikeenheid, regerings-nooddienste, Private Care-ambulansdienste en hommeltuigoperateurs insluit, het reageer.

Terwyl NSRI Oesterbaai op gereedheid geplaas is, het sewe plaaslike vissersvaartuie het by die seesoektog aangesluit.

Transnet Nasionale Hawe-owerheid en die NSRI noodoperasiesentrum het Maritime Rescue Coordination met koördinering van die soektog bygestaan.

Telkom Maritieme Radiodienste het gehelp om ‘n waarskuwing aan alle skepe uit te saai.

‘n Helikopter is vanaf Gqeberha gestuur om by die soektog aan te sluit.

Tydens ‘n lug-, see- en kuslynsoektog is die visserman se liggaam opgespoor.

Hy is deur paramedici dood verklaar.

Dit is bevestig dat hy die enigste persoon op die boot was. Die oorsaak van die voorval is onbekend.

Die polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer.

Pogings sal aangewend word om die boot van die rotse te haal.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.