Orania het uit sy nate gebars met drie sportgeleenthede wat gedurende die langnaweek van 27 April tot 1 Mei gelyktydig daar plaasgevind het. Benewens die Bo-KarooVasbyt en die CVO skool se Bulletjie- en Poplaptoernooi, was die kersie op die koek AVS se aanbieding van O/23 Bokkietoernooi 2023 in samewerking met die Orania Ontwikkelingsmaatskappy as hoofborg.
Die Afrikanerdorp het gedruis en die opgewondenheid was tasbaar tussen die altesaam 300 spelers en afrigters wat bymekaar gekom het vir die O/23 Bokkietoernooi. Die kompetisie-gees het hoog geloop en dit was oudergewoonte ‘n ware kultuurbyeenkoms.
Nege netbalspanne en tien sewesrugbyspanne het mekaar in die toernooi die stryd aangesê.
Vrystaat lig die sewesrugby trofee nadat hulle Orania in die eindstryd oortuigend klop. In die netbal-afdeling moes Noord-Vrystaat met die silwer medalje tevrede wees nadat hulle die knie in die finaal teen ‘n begeesterde Noord-Transvaal moes buig. Wes-Transvaal het met die geesbeker weggestap.
“As organiseerders van die toernooi wil ons graag ons hartlike dank betuig teenoor al die betrokke borge, Orania en sy mense, die media, die ondersteuners en die talentvolle kamerapersoneel wat almal belangrike rolle in die sukses van die toernooi gespeel het,” sê ds. Peter Stans, Hoof Uitvoerende Beampte van Afrikaner Volkseie Sport. “Te danke aan al die rolspelers se bydrae en ondersteuning, was hierdie toernooi weer een vir die boeke!”
Die volgende hoogtepunt op die AVS-kalender is Bokkieweek 2023 wat DV vanaf 3 tot 7 Julie te Kroonstad plaasvind. Hier gaan seuns en dogters vanaf O/13 tot O/19 dit uitspook om as die beste spanne in onderskeidelik netbal, hokkie en rugby gekroon te word.



