‘n Man van Durban het glo Saterdagoggend sy ma en haar suster met ‘n mes gesteek voordat hy homself daarna beseer het.
Tyron Powell, woordvoerder van Marshall Sekuriteit, sê hul spanlede het in samewerking met Netcare911 en Greenwood Park SAPD reageer op ‘n steekvoorval by die Durban-Noord-voorstad.
Marshall Sekuriteit-noodsentrum het om 08:30 verskeie oproepe vir mediese bystand ontvang.
Met hul aankoms op die toneel het hulle op die man, sy ma en haar suster afgekom met verskeie steekwonde.
Die man het homself glo in die bors gesteek.
“Die ma het aan haar beserings beswyk en is oorlede voordat paramedici opgedaag het. Die suster was in ‘n kritieke toestand en het lewensondersteunende behandeling nodig gehad voordat sy na die hospitaal vervoer is.
“Net so was die verdagte se toestand kritiek en het hy ook gevorderde lewensondersteunende ingryping nodig gehad. Hy is deur ’n privaat ambulansdiens, onder toesig van Netcare911 ALS, en onder polisiebewaking na die hospitaal vervoer,” sê Powell.
Die mes wat in die gru-voorval gebruik is, is gevind deur Greenwood Park SAPD wat die omstandighede rondom die voorval sal ondersoek.



