‘n Man (29) is Donderdagoggend vroeg deur die polisie in Polokwane in hegtenis geneem vir die beweerde onwettige vervaardiging en beweerde handel in onwettige dwelms en die besit van ‘n voertuig wat vermoedelik gesteel is.
Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê die polisie het waardevolle inligting ontvang wat gelei het tot die inhegtenisneming deur die provinsiale misdaadintelligensie-narkotikaspan en georganiseerde misdaadondersoekeenheid tydens ‘n taktiese operasie.
Die verdagte is glo betrap terwyl hy dwelms in klein sakkies in sy mini-dwelmlaboratorium verpak het terwyl nog dwelms in ‘n voertuig op dieselfde perseel gevind is.
Beslag is gelê op dwelms wat wissel van nyaope, crystal meth en rock met ‘n geraamde straatwaarde van R1 miljoen en ‘n grys VW Polo ter waarde van R240 000.
Die verdagte sal aangekla word en binnekort in die Polokwane-landdroshof verskyn.
Lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, het die spanne geprys vir ‘n goed gekoördineerde operasie.
“Hierdie dwelms was bedoel om onskuldige lewens te vernietig. Ons waardeer die samewerking van die wetsgehoorsame burgers wat aanhou om waardevolle inligting te verskaf wat ons help om dwelms uit ons samelewing uit te roei,” het generaal Hadebe afgesluit.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



