Ma wat kinderboek oor hartseer na dood skryf, vir man se moord aangekla

Deel hierdie storie / Share this story

Kouri Richins (33) van Utah, wat ‘n kinderboek geskryf het oor hoe om hartseer te hanteer nadat haar man Eric Richins verlede jaar oorlede is, word nou van sy dood beskuldig.

Sy word daarvan beskuldig dat sy hom met ‘n dodelike dosis fentaniel vergiftig het nadat sy vir hom glo ‘n feestelike Moskow Mule-skemerkelkie bedien het.

Richins is Maandag in hegtenis geneem op aanklagte van moord met verswarende omstandighede en drie aanklagte vir die besit van ‘n beheerde middel met die doel om dit te versprei.

Eric Richins is op 4 Maart 2022 by hul huis in Kamas, sowat 40 myl suidoos van Salt Lake City, dood gevind.

Summit County Balju het reageer nadat Richins 911 gebel het om te rapporteer dat sy hom in hul slaapkamer gevind het en dat hy nie reageer nie.

Eric is op die vloer by die voetenent van die bed gevind, maar alhoewel lewensreddingsmaatreëls toegepas is, is hy dood verklaar.

Volgens ‘n hofdokument het sy voor haar man se dood vir ‘n kennis gevra vir iets sterk wat sy die “Michael Jackson-goed” genoem het. Die kennis het dosyne fentanielpille aan haar verskaf.

Sy het aan ondersoekers gesê dat hulle die aand voor haar man se dood ‘n besigheidstransaksie gevier het, waarvoor sy vir hom ‘n Moscow Mule-skemerkelkie in die kombuis gemaak het en dit toe na hul slaapkamer geneem, waar hy dit in die bed gedrink het.

Richins het gesê dat sy in een van haar kinders se kamers geslaap het omdat die kind nagmerries gehad het. Sy het na bewering omstreeks 03:00 wakker geword en gevind dat haar man in hul slaapkamer koud was met aanraking.

Sy het verder gesê dat sy haar selfoon in haar slaapkamer gelaat het en dit nie in die kinderkamer gehad het nie.

Ondersoekers het later gevind dat haar foon verskeie kere ontsluit en gesluit is en beweging getoon het in die tyd wat sy beweer dat sy in die kinderkamer was. Daar is ook gevind dat SMS-boodskappe wat gestuur en ontvang is, uitgevee is.

Ten tye van sy dood was slegs hulle twee en die drie jong seuns in die huis.

‘n Jaar na Eric Richins se dood het sy die boek getiteld “Are You With Me?” gepubliseer.

Die boek se doel is om rustigheid en troos vir kinders te gee wat ‘n geliefde verloor het, het Amazon die boek beskryf.

Die boek wat intussen deur Amazon verwyder is, het sy aan haar man opgedra met die woorde: “my amazing husband and a wonderful father.”

In ‘n TV-onderhoud vir die boek het sy haar man se dood as onverwags beskryf.

Ondersoekers van die saak het in ‘n waarskynlike oorsaakverklaring gesê ‘n lykskouing en ‘n toksikologiese verslag het bevind dat Eric Richins aan ‘n fentaniel-oordosis gesterf het. Die mediese ondersoeker het gesê dat hy vyf keer die dodelike dosis in sy stelsel gehad het en dat dit “onwettige” fentaniel was en nie van ‘n mediese graad nie. Daar word ook geglo dat hy die dwelms mondelings ingeneem het.

Hy het na bewering aan ‘n vriend gesê dat hy glo dat sy vrou hom weke vantevore met ‘n Valentynsete probeer vergiftig het.

‘n Soektog met ‘n lasbrief het verskeie kommunikasie tussen Kouri Richins se foon en haar kennis gewys. Die kennis, wat verskeie dwelmaanklagte gehad het, het aan ondersoekers gesê dat Richins van Desember 2021 tot Februarie 2022 uitgereik en gevra het vir “voorskrifpynmedikasie” vir ‘n belegger wat ‘n rugbesering gehad het. Hy het 15 tot 30 fentanielpille vir Richins afgelewer.

Eric het drie dae later, op 14 Februarie 2022, siek geword na die Valentynsete.

Ongeveer twee weke later het Richins weer haar kennis gevra vir iets sterker en dit is waar die “Michael Jackson-goed” ter sprake gekom het. Sy het glo spesifiek vir fentaniel gevra en het $900 betaal.

‘n Aanhoudingsverhoor is vir 19 Mei geskeduleer.

Bronne: NBC News, The Guardian, ABC News

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.