‘n Man (36) en sy manlike passasier (34) is Dinsdag 9 Mei 2023 omstreeks 13:00 in die parkeerarea van North Cape Mall in Kimberley in hegtenis geneem vir die beweerde handel in dwelms.
Lt.kol. Sergio Kock sê speurders van die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid in Kimberley het inligting opgevolg wat hulle na die parkeerarea van die mall geneem het.
Die lede het ‘n geparkeerde silwer Chrysler-lykswa deursoek en op Mandrax-tablette en tik (metamfetamien) in ‘n kompartement in die agterkant van die voertuig afgekom.
Voorlopige ondersoek het bevind dat die lykswa aan ‘n plaaslike begrafnisondernemer in Roodepan, Kimberley behoort.
Die 36-jarige man wat die voertuig bestuur en in hegtenis geneem is, is ook die besigheidseienaar van die begrafnisondernemingsdiens.
Daar is beslag gelê op die lykswa, 2 450 Mandrax-tablette met ‘n geskatte straatwaarde van R180 000, agt sakke tik met ‘n waarde van R45 000, asook ‘n onbekende bedrag kontant wat vermoedelik wins van dwelmverkope is.
Die twee beweerde verdagtes sal binnekort in die Kimberley-laddroshof verskyn.
Polisie in die provinsie sal onverpoosd voortgaan om ruimte vir dwelmhandelaars te verminder en moedig die gemeenskap aan om voort te gaan om die polisie se oë en ore te wees en enige kriminele aktiwiteite aan te meld, het lt.-kol. Kock gesê.
Stop Misdaad kan by 08600 10111 gebel word of altenatiewelik kan daar van die MySAPS-toepassing gebruik gemaak word. Indien verkies, kan wenke anoniem gegee word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



