‘n Dokter by ‘n hospitaal in Brasilië word nou ondersoek vir die dood van ‘n baba omdat hy tydens die baba se geboorte “op die ma se maag geklim en die baba se kop van haar liggaam afgeruk het”.
Volgens Daily Mail sê die babadogtertjie se ouers dat sy nog lewend was toe sy besig was om gebore te word. Die ouers beweer ook glo dat die hospitaal na die voorval probeer het om hulle te oortuig om dokumente te teken om dit “toe te smeer”.
Die voorval het glo op 1 Mei by die Hospital das Clinicas da UFMG in Brasilië plaasgevind.
Ranielly Coelho Santos, die baba se ma, het twee dae na haar babadogter se dood ‘n klagte by die polisie ingedien.
Santos (34), wat ook ‘n negejarige dogter het, is op 24 April, 28 weke swanger, in die hospitaal opgeneem omdat sy hoë bloeddruk gehad het, berig Daily Mail.
Die dokter, wie se naam volgens Daily Mail nog nie bekend is nie, het die baba se pa glo gevra om die kraamsaal in te kom. Die pa beweer ook nou dat hy wel gesien het sy baba is lewend en dat sy haar oë en haar mond beweeg het.
Volgens die gesin se klagte by die polisie het die dokter “op die ma se maag geklim soos wat hy probeer het om die baba uit te haal en toe die kind se kop afgeruk”.
Volgens die polisieverslag het die familie glo ook ‘n verskoning vanaf die betrokke dokter ontvang na die voorval.
Die plaaslike owerhede ondersoek die gebeure. – Daily Mail
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



