Massiewe soektog na drie ontsnaptes uit polisieselle geloods

Deel hierdie storie / Share this story

Die polisie in Hlogotlou, Limpopo, het ‘n massiewe soektog na drie manlike verdagtes tussen die ouerdomme van 20 en 36 jaar van stapel gestuur nadat hulle op Donderdag 4 Mei 2023 omstreeks 18:00 uit wettige aanhouding uit polisieselle ontsnap het.

Kol. Malesela Ledwaba, provinsiale polisiewoordvoerder in Limpopo, sê na bewering was lede besig met skofruiling toe hulle ontdek het dat die ogiesdraad wat die dak van die selle beskerm het uitgesny is en vier gevangenes vermis is.

Hulle het dadelik met ‘n soektog begin.

Sello Mankge (29), een van die verdagtes, is weer binne die stasieperseel in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om te ontsnap. Hy het na bewering gedurende Januarie 2022 roof met verswarende omstandighede in die polisiëringsarea gepleeg.

Die ander drie verdagtes is steeds op vrye voet.

Voorlopige ondersoek het aangedui dat die drie verdagtes vir ‘n reeks misdade in hegtenis geneem is wat tussen 2019 en 2023 op verskillende plekke in die Sekhukhune-distrik uitgevoer is.

Thabang Mokaoena (20) is in hegtenis geneem vir roof met verswarende omstandighede gedurende November 2022 in die Hlogotlou-polisiëringsgebied.

Thabang Nzima (31) staan tereg op ‘n klag van verkragting wat hy glo in Januarie 2019 in die Motetema-polisiëringsgebied gepleeg het.

Lewis Magoro (36) is vir beweerde klagtes van poging tot moord en roof wat in Desember 2022 en Januarie 2023 in die Motetema-polisiëringsgebied gepleeg is, in hegtenis geneem.

Genl.maj. Jan Scheepers, die waarnemende provinsiale kommissaris van Limpopo, het alle toepaslike hulpbronne geaktiveer vir die onmiddellike inhegtenisnemings van die verdagtes en hy moedig die gemeenskap aan om die polisie by te staan.

Enigiemand met inligting wat kan help, word versoek om die ondersoekbeampte sers. Rocco Given Morgan by 072 114 1732 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.

Alternatiewelik kan die naaste polisiestasie gekonak word of gebruik kan gemaak word van die MySAPS-toepassing.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.