Twee kinders, onderskeidelik agt en tien jaar oud, is Sondag 30 April 2023 deur weldoeners by Clifton se Eerste Strand uit die see gered, nadat hulle, terwyl hulle geswem het, in die moeilikheid beland het toe seestrome hulle die see in getrek het.
David Rosenberg, NSRI-Bakoven se adjunk-stasiebevelvoerder, sê verskeie oproepe is deur bekommerde ooggetuies ontvang.
Alex Elcock, ‘n inwoner van Cifton se Eerste Strand, was in telefoonverbinding met NSRI om kritieke inligting oor te dra, terwyl haar man, Andrew, ‘n gereelde swemmer, die branders in is om die kinders te help.
NSRI glo dat nog twee ongeïdentifiseerde omstanders, waarvan een ‘n pienk NSRI-reddingsboei by hom gehad het, ook die branders in is om te help.
Seetoestande was as rof met deinings van twee tot drie meter beskryf.
Die Stad Kaapstad se waterreddingsnetwerk is in kennis gestel en reddingswemmers, wetstoepassingsbeamptes en lewensredders wat nie aan diens was nie is na die toneel. Die Wes-Kaapse Government Health EMS Metro-beheer het Generiese Ambulansdienste na die toneel gestuur. NSRI het die reddingstuig Gemini Legend te water gelaat.
Twee reddingswemmers het die see in geswem.
In daardie stadium is die 10-jarige seun deur twee ongeïdentifiseerde omstanders, uit die water gehelp.
Intussen het Andrew Elcock die agtjarige seun ongeveer 20 meter van die kus af bereik. Die kind het reeds onder die water ingegly en was ernstig in die moeilikheid in ‘n sterk seestroom en inkomende golwe.
Andrew het besef dat dit tevergeefs sou wees om met die kind deur die golwe strand toe te probeer swem en het geweet dat hulp op pad is. Terwyl hy die kind vasgehou het, het hy hom met kundigheid geleer om te dryf, water te trap, onder branders te duik en wanneer om weer na bo te gaan, in die teenwoordigheid van die seestroom wat hulle die see wou intrek.
Hy moes met tye die kind diep laat asem haal en hom onder ‘n inkomende brander inforseer terwyl hy hom te alle tye vasgehou het om te keer dat hulle nie met die stertspoeling van elke brander vasgevang word nie.
Andrew het die kind, wat hom ten volle vertrou het, se dapperheid geprys en gesê dat die kind nie paniekerig geraak het nie, ten spyte van die gevaar waarin hy verkeer het.
NSRI-reddingswemmers het die twee sowat 200 meter van die kus bereik. ‘n Reddingsboei is aan die kind gegee om vas te hou sodat hy kan dryf terwyl Andrew suksesvol water kon trap.
‘n Reddingstuig het hulle bereik, wat almal aan boord gelaai het en mediese behandeling vir hipotermie op die kind toegepas het. Dit is by Bakoven-stasie voortgesit. Andrew is ook gehelp om van hipotermie te herstel.
Die agtjarige is deurentyd vir hipotermie behandel en is eers gestabiliseer voordat hy in ‘n ernstige maar stabiele toestand per ambulans na ‘n hospitaal geneem is. Hy is later deur die hospitaal ontslaan en het geen verdere mediese hulp nodig gehad nie.
Die 10-jarige is deur paramedici geassesseer en was in ‘n bevredigende toestand. ‘n Ambulans het die 10-jarige se ma en ‘n 5-jarige kind wat nie in die water was nie na hom by Bakoven reddingstasie geneem. Hy het geen verdere mediese aandag nodig gehad nie.
Alex en Adrew Alcock, sowel as die twee ongeïdentifiseerde weldoeners is deur die NSRI geprys omdat hulle die twee kinders wat in lewensgevaar was, gered het.
Alle rolspelers wat betrokke was, is bedank omdat hulle ‘n potensiële tragedie help vermy het.
Die Cameroon-familie van Bryanston in Johannesburg het hul dankbaarheid teenoor almal uitgespreek.
Die twee kinders is gesond en dit gaan goed met hulle.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



