Samantha Hutchinson (34) is Vrydagaand 28 April 2023 op haar huweliksdag dood en Aric Hutchinson, haar eggenoot, ernstig beseer toe hulle om 22:00 hul huweliksonthaal in Folly Beach in die VSA in ‘n gholfkarretjie verlaat en deur ‘n voertuig wat deur ‘n vermeende dronkbestuurder bestuur is, getref is.
Die bruid kom oorspronklik van Noord-Carolina, maar die egpaar het hul tuiste in die bruidegom se tuisstaat Utah, Suid-Carolina gemaak.
Annette Hutchinson, Aric se ma, het ‘n GoFundMe-fondinsameling begin om geld bymekaar te maak vir die bruid se begrafnis en te help met mediese onkostes van die bruidegom en familielede wat ook in die ongeluk beseer is.
Owerhede sê die bruidspaar en twee van hul familielede, Ben Garret en Brogan Garret (Annette se skoonseun en kleinseun) was saam in die gholfkarretjie toe die insident plaasgevind het. Beide het ook beserings opgedoen. Ben is in ‘n ernstige toestand.
Op ‘n foto kan die paartjie in gelukkige oomblikke saam gesien word kort voordat hulle in die gholfkarretjie geklim het wat hul van die onthaal sou wegneem.
Jamie Lee Komoroski (25), wat glo onder die invloed was, het van agter in die gholfkarretjie vasgery. Die impak het die karretjie oor die 100 meter laat beweeg en verskeie kere laat rol.
Samantha is dood en Aric het ‘n breinbesering en talle gebreekte bene opgedoen. Sy gesig is gekneus en hy is steeds in die hospitaal waar hy reeds twee rekonstruktiewe operasies ondergaan het.
Die bruidegom se ma het op die GoFundMe blad gesê dat sy trouring in ‘n plastieksak aan haar oorhandig is slegs vyf ure nadat Samantha dit aan sy vinger gesteek het. Sy het verder gesê dat Aric die liefde van sy lewe verloor het.
Komoroski is in hegtenis geneem en aangekla van dronkbestuur (DUI) wat dood en roekelose manslag behels het. Haar bloeduitslae is uitstaande, maar ‘n ondersoek na die ongeluk het bepaal dat sy 65 MPH gery het toe sy hulle getref het, het die polisie gesê.
Samantha se werkgewer, XenTegra, in internasionale IT-verskaffer wat in Hundersville, Noord-Carolina geleë is, het die nuus van haar afsterwe op LinkedIn gedeel en opgemerk dat sy ‘n “integrale lid” van hul span was.”
“Sy het ‘n lig om haar gedra, een wat so helder geskyn het op almal met wie sy interaksie gehad het. Eenvoudig gestel, Samantha het ‘n oorvloed vreugde en lag na die werksplek gebring,” het die maatskappy geskryf en opgemerk dat sy ‘n togewyde en detail-georiënteerde werker was wat meer gedoen het as wat van haar verwag is.”
“Maar buiten haar professionele prestasies was Samantha ‘n wonderlike mens. In die afgelope paar maande kon ons span in haar opgewondenheid deel terwyl sy foto’s en besonderhede oor haar komende troue gedeel het,” het die maatskappy geskryf.
“Ons sal vir altyd Samantha se glimlag, haar lag en haar toewyding aan haar werk, vriende en familie onthou.”
Bronne: New York Post, WYFF4.com en CNN
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



