Verdagte wat in hegtenis geneem is, bly agter tralies

Deel hierdie storie / Share this story

Vuyisele Nomame (33), die verdagte wat in hegtenis geneem is vir die beweerde aanval op die bejaarde Elodé Kingsley van Edenburg, sal tot sy volgende hofverskyning in aanhouding bly.

Kapt. Lorraine Earle sê die verdagte het vanoggend vir die eerste keer in die Edenburg-landdroshof verskyn, op aanklagte van huisbraak en diefstal, asook aanranding met die doel om ernstig te beseer.

Die Edenburg-polisie het onverpoosd dag en nag gewerk om die deurbraak te maak.

Die verdagte, wat na bewering by die bejaarde vrou se huis ingebreek, haar aangerand en daarna gevlug het, is met van die items wat uit die huis vermis word in sy besit gevind.

Elodé Kingsley (91) was op 23 April 2023 omstreeks 11:35 by haar huis in haar kamer toe ‘n onbekende verdagte haar kamer binnegegaan het. Toegang tot die huis is verkry deur die kombuisdeur oop te forseer.

Na bewering het die verdagte haar sonder om ‘n woord te sê aangerand en van die toneel gevlug.

Kingsley is met ernstige beserings aan haar kop en gesig vir mediese behandeling na ‘n hospitaal in Bloemfontein geneem.

Die verdagte sal tot sy volgende hofverskyning, wat op 8 Mei 2023 is, in aanhouding bly.