Ondersoek na ‘n dubbele moord nadat die liggame van twee vroue Woensdag 26 April 2023 op ‘n grondpad in Joe Slovo gevind is, het gisteraand tot die inhegtenisneming van twee verdagtes in Engcobo, Oos-Kaap gelei.
Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê na bewering het ‘n 36-jarige vrou en haar vriendin (40) Woensdagoggend 26 April eersgenoemde se dogter by haar skool in Motherwell afgelaai. Hulle het met haar silwer VW Polo gery.
Dit was die laaste keer dat iemand iets van die vroue gesien of gehoor het. Hulle spoor het hiervandaan af doodgeloop.
Omstreeks 10:00 dieselfde dag het ‘n persoon wat op die grondpad tussen Nyamazana en Dubai se informele nedersetting geloop het, die polisie in kennis gestel van twee liggame wat in die pad gelê het.
Dit was die liggame van die twee vroue. Beide het skietwonde gehad. Hul name word weerhou totdat ‘n formele indentifisering plaasgevind het.
Omstandighede wat tot hul moorde gelei het, word ondersoek.
Die verdagtes moontlik betrokke by die twee vroue se dood het met die VW Polo van die toneel weggery. Die polisie se ondersoek het aan die lig gebrind dat die voertuig in die Engcobo-omgewing was.
Op Donderdag 27 April 2023 het lede van Engcobo se misdaadvoorkomingseenheid die opsporingsaktivering van die voertuig gemonitor en omstreeks 16:40 het hulle die voertuig op ‘n grondpad in Cobosi voorgekeer.
‘n 26-jarige man wat in die voertuig was is in hegtenis geneem op aanklagte van moord en die besit van ‘n vermoedelik gesteelde voertuig. Die voertuig is deur die polisie geskut.
Lede het verdere inligting met die ondersoek opgevolg en omstreeks 18:00 ‘n tweede verdagte (30) by ‘n huis op Mhlpekazi in Engcobo in hegtenis geneem. Hy word op ‘n aanklag van moord aangehou.
Albei verdagtes sal na verwagting volgende week in die New Brighton-landdroshof verskyn.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



