‘n Seun (16) is Woensdagoggend 26 April 2023 omstreeks 08:15 in Leidenweg, Delft in ‘n skietvoorval gewond.
Kapt. Frederick van Wyk sê die tienerseun was besig om skool toe te stap toe hy na bewering deur twee onbekende verdagtes genader is.
Een het glo ‘n vuurwapen uitgepluk en twee skote na die tienerseun geskiet. Hy is getref en het twee wonde opgedoen.
Die motief vir die skietvoorval blyk bendeverwant te wees. Delft-polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord.
Enigiemand met inligting oor die skietvoorval word versoek om Delft-polisie by 021 954 9011 of 082 522 2036 te kontak.
Alternatiewelik kan Stop Misdaad by 08600 10111 of SMS Crime Line by 32211 gekontak word.
Daar kan ook van die MySAPS-toepassing gebruik gemaak word.
Volgens ER 24 het die slagoffer twee skietwonde opgedoen.
Met aankoms op die toneel saam met ‘n ander nooddiens is die tiener gevind waar hy aan die kant van die pad gelê het. Plaaslike owerhede was ook reeds op die toneel. Paramedici het die seun geassesseer en gevind dat hy skietwonde opgedoen het.
Hy is deur paramedici op die toneel behandel en van gevorderde lewensondersteuning intervensie voorsien voordat hy vir verdere mediese behandeling na ‘n nabygeleë hospitaal geneem.
Die presiese omstandighede van die insident is onbekend, maar word deur plaaslike owerhede wat op die toneel was ondersoek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



