Francis Davidson (74) is op 27 April 2023 ongeveer 09:00 op die plaas Who Ha naby die Portrivierbrug, Maclear in die Oos-Kaap deur sy seun gevind na hy tydens ‘n huisroof aangerand is.
Kapt. Ursula Roelofse, polisiewoordvoerder, sê sy seun het gaan kyk hoe dit met sy pa gaan, aangesien hy alleen op die plaas bly.
Met sy aankoms by sy pa het hy vasgestel dat drie onbekende verdagtes na bewering die vorige nag van 26 April 2023 deur die hoofdeur gebreek het om toegang in die huis in te forseer.
Davidson is glo vasgebind, waarna hy oral oor sy lyf aangerand en ook oor sy bolyf gebrand is, terwyl die verdagtes geld van hom geëis het.
Hulle het boonop glo kos gekook en geeët alvorens hulle die volgende oggend met die slagoffer se Mahindra, wat in die motorhuis was, gevlug het.
Geen kontant is gevat nie. Vuurwapens is nie tydens die aanval deur die verdagtes gebruik nie.
Die slagoffer is na ‘n dokter geneem waar hy behandel en ontslaan is.
Geen gedetailleerde verklaring kon van die slagoffer verkry word nie, aangesien hy steeds te getraumatiseerd was.
Die voorval is deur sy seun by die SAPD aangemeld. Die Maclear-polisie ondersoek ‘n klag van huisroof.
Die SAPD het onmiddellik met die ondersoek begin en inligting opgevolg. Die gesteelde voertuig is verlate en uitgebrand in die Tsitsana, Katkop-omgewing gevind.
Daar is tans nog geen inhegtenisnemings gemaak nie.
Indien enigiemand met inligting van die voorval kan help, word hulle versoek om met kapt. De Kock, die speurtakbevelvoerder by 082 442 2381 kontak te maak.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



