‘n Vrou (33), die bestuurder van ‘n motorvoertuig, is Woensdag 26 April 2023 langs die N7 Klawer-weegbrug in die Wes-Kaap in hegtenis geneem nadat ‘n besending van R2 050 000 se Mandrax-tablette in haar besit gevind is.
Die misbruik van onwettige dwelms is een van die grondoorsake van geweldsmisdade in ons gemeenskappe, en lede verbonde aan die Weskus-distrik, Provinsiale Operasionele Bevelsentrum en Provinsiale Verkeer, word geloof vir hul pogings om dwelms uit die strate te verwyder.
Kaptein Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê polisielede het tydens ‘n geïntegreerde operasie ‘n voertuigkontrolepunt langs die weegbrug opgestel.
Hulle het ‘n verdagte voertuig gestop en deursoek wat gelei het tot die beslaglegging op ‘n totaal van 41 000 Mandrax-tablette met ‘n geraamde straatwaarde van R2 050 000.
Die vrou, wat die bestuurder van die voertuig was, is in hegtenis geneem en sal na verwagting Vrydag 28 April 2023 op ‘n aanklag van handel in dwelms in die Klawer-landdroshof verskyn.
Provinsiale polisiebestuur het die lede geloof vir hul goeie werk en werksverhouding met ander wetstoepassingsagentskappe om ‘n veiliger omgewing vir die mense van die Wes-Kaap te skep.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



