Polisiesersant en makkers vir verskeie klagtes in hof

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Polisiesersant, Moseki Mokgaetji Francina (45), Banele Gama (28), haar man, en Makutu Mdutuzi (28), die man se vriend, het Dinsdag 25 April 2023 in die Modimolle-landdroshof verskyn vir voorvalle wat tussen 8 April 2023 en 11 April 2023 gebeur het. Dit sluit aanklagte van beweerde ontvoering, die rig van ‘n vuurwapen, aanranding met die doel om ernstig te beseer en roof in.

Kol. Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder, sê daar word beweer dat Gama ‘n man van Modimolle gehuur het om namens hom dagga te verkoop. Op Saterdag 8 April het ‘n hewige argument tussen die slagoffer en verdagtes ontstaan omdat hy glo nie kontantgeld wat vermoedelik vir die verkoop van dagga verkry is aan sy “base” oorhandig het nie.

Na bewering het die polisiesersant, geklee in volle uniform, met haar privaat voertuig by die HOP-huis in Modimolle aangekom waar sy gedreig het om die slagoffer met petrol te brand, of met ‘n vuurwapen te skiet.

Die slagoffer is glo aangerand, van kontantgeld beroof en ontvoer toe die polisiesersant en haar man hom met geweld na ‘n HOP-huis in Mookgopong, Uitbreiding 8 geneem het waar hulle hom teen sy wil toegesluit het.

Die slagoffer het egter daarin geslaag om te ontsnap en het die saak by die polisie aangemeld.

Die polisie het onmiddellik met die ondersoek begin wat gelei het dat Gama Donderdag 20 April in Modimolle in hegtenis geneem is. Hy het reeds verskeie kere in die hof verskyn, waarna sy vrou en die medepligtige Maandag 24 April ook in die hof verskyn het.

Twee van die drie verdagtes is in aanhouding terwyl die polisiesersant Dinsdag 25 April met ‘n waarskuwing vrygelaat is. Die drie sal na verwagting op 5 Mei weer in die Modimolle-landdroshof verskyn.

Die saakdossier is aan Opod oorhandig vir hul verdere ondersoek.

Genl.maj. Jan Scheepers die waarnemende provinsiale kommissaris van die polisie in Limpopo, sê: “Hierdie arrestasies sal as ‘n goeie voorbeeld dien dat niemand bo die wet verhewe is nie.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel