FiND iT het vroeër vandag berig oor foto’s van die aanval op Elodé Kingsley (91) wat op sosiale media te voorskyn gekom het. Sy is Sondag 23 April 2023 ongeveer 11:35 in haar huis op Edenburg in die Vrystaat angeval. Edinburg-polisie het ‘n mannejag geloods om die aanvallers op te spoor.
Kapt. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, sê die verdagtes wat na bewering ingebreek het, het die bejaarde vrou aangerand en toe gevlug.
Toegang is verkry deur die kombuisdeur oop te forseer. Die vrou was in haar kamer toe ‘n onbekende verdagte glo die kamer binnegegaan het. Sonder om ‘n woord te sê het hy haar aangerand, waarna hy toe van die toneel gevlug het.
Die vrou, wat ernstige beserings in haar gesig en op haar kop opgedoen het, is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal in Bloemfontein geneem. Daar is bevestig dat sy nie verkrag is nie.
Dit is onbekend wat in die huis gevat is.
Edenburg-polisie ondersoek ‘n saak van huisbraak en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Geen arrestasies is tot op hede gemaak nie.
Enigiemand met inligting kan met kapt. Johannes Jonlinga, die stasiebevelvoerder van Edenburg by 082 467 6324 kontak maak. Wenke kan ook deur die MySAPS-toepassing gegee word. Alternatiewelik kan Stop Misdaad by 08600 10111 gekontak word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



