Een kind is dood en 86 ander persone beseer toe ‘n busbestuurder Saterdagaand 22 April 2023 by die Deerpark T-aansluiting in Tzaneen, Limpopo beheer oor die bus verloor het en teen ‘n steil wal af in bome vasgery het.
ER24 en verskeie ander dienste was om 19:58 op die toneel waar die bus aan die onderkant van die steil wal gevind is.
Verskeie kinders was reeds uit die bus en besig om na bo tot by die pad te klim.
Die liggaam van ‘n seun was tussen twee sitplekke in die bus vasgekeer. Hy het reeds aan sy beserings beswyk. Niks kon vir hom gedoen word nie en hy is dood verklaar.
Altesaam 86 ander beseerdes is op die toneel versorg. Dit sluit 80 kinders, tussen die ouderdomme van ses en 11 jaar oud in, wat geringe tot ernstige beserings opgedoen het. Ses volwassenes het geringe tot matige beserings opgedoen.
Die pasiënte is op die toneel behandel en van gevorderde lewensondersteuning voorsien voordat hulle vir verdere mediese sorg na nabygeleë hospitale vervoer is.
Die presiese besonderhede oor die voorval is onbekend, maar plaaslike owerhede was op die toneel om verder ondersoek te doen.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel



